Musiekvideo: Stadsjapie met boerehart sing oor jagnaweke

Jan Rhaap. (Foto: Carol de Villiers Fotografie)

“Mans hou mos nie eintlik daarvan om té veel te gesels oor die jagnaweek wat verby is nie; dié liedjie sal presies vir vroue sê wat hul mans tydens só ’n naweek aanvang.”

Só vertel die Afrikaanse sanger, Jan Rhaap, oor sy splinternuwe enkelsnit, “Jagvat”, wat pas uitgereik is.

“Maak nie saak wie by die jagnaweek betrokke is of waar dit plaasvind nie, elkeen lyk maar min of meer dieselfde en bestaan uit dieselfde soort karakters.”

Die man wat nooit sy bagasie uitpak nie, die kampkommandant wat seker maak dat dinge vlot verloop en die ernstige jagter is maar net van die karakters waaroor Rhaap in die liedjie sing.

Rhaap, wat bekend is vir sy trefferliedjies, “Jan ek kan nie dans nie” en “Ramskilpad”, het daarmee saam ’n nuwe kortspeel-album, ook genaamd Jagvat, uitgereik. Op dié album is iets van alles.

“Daar is lekker danstreffers, maar mens is nie altyd net in ’n goeie, opgewekte bui nie. Daar is ook ernstige liedjies op die album.”

Rhaap, wat in Desember vir ’n tweede keer pa gaan word, het die liedjie “Pa staan vir jou” vir sy kinders geskryf.

Rhaap, wie se regte naam Werner Burger is, is gebore en getoë in Pretoria, hoewel sy boerehart nou sterk vir die plaaslewe klop.

“Ek gaan altyd lief vir Pretoria bly, maar beslis nie terugtrek soontoe nie.”

Rhaap boer al ’n hele paar jaar op ’n plaas in die Noord-Kaap. Hy koester tye op die familieplaas waarop hy en sy gesin tans woon en verheug hom daarin dat sy kinders op die plaas kan grootword.

Hoewel musiek vandag onvervangbaar in dié singende boer se lewe is, het hy nooit gedink dat dit die lewenspad sou wees waarop hy hom bevind nie.

“Ek het nooit gesing of aan enigiets van dié aard op skool deelgeneem nie. Ek het ook eers later in my lewe begin kitaar speel.”

Op die ouderdom van 20 het ’n kitaar vir die eerste keer in sy lewe met aanloklikheid vir Rhaap gewink. Hy erken dat dié pandjieswinkel-kitaar nie in die beste toestand was nie, maar dat dit sy liefde vir musiek aan die brand gesit het.

“My pa het gesê dat ek eers moet leer kitaar speel voordat ons na ’n behoorlike kitaar gaan kyk.”

Dié pandjieswinkel-kitaar is op sy 21ste verjaarsdag met ’n splinternuwe een vervang. Met dié geskenk het hy verder gewoeker in sy musiekloopbaan.

Vandag skoffel Afrikaanse gehore alte lekker op die trefferliedjies wat uit dié Noord-Kaapse boer se pen verskyn.

“Al waaroor dit vir my gaan, is dat mense my musiek geniet. Daar is nie eintlik iets belangrikers nie.”

Kyk hier na die musiekvideo van “Jagvat”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.