Musiekvideo: Tarryn Lamb tref met ‘Mag ek dan by jou’

Tarryn Lamb. (Foto: Mia’s Photography)

Tarryn Lamb, die sangeres wat bekend is vir gewilde Afrikaanse treffers soos “Vier woorde” en “Ek is mal oor jou”, se splinternuwe enkelsnit getiteld “Mag ek dan by jou” is pas uitgereik.

Die musiekvideo vir dié liedjie is vandag (Donderdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien. “Mag ek dan by jou” is Lamb se eerste solo-uitreiking vanjaar.

Dit is ʼn verwerking van ʼn liedjie van die Nederlandse kunstenaar Claudia de Breij. Lamb het die Afrikaanse lirieke saam met die musikant Hunter Kennedy geskryf. Kennedy is onder meer bekend as kitaarspeler en liriekskrywer vir groepe soos Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar.

Lamb vertel De Breij se liedjie het aanklank by haar gevind toe sy verlede jaar deur ʼn moeilike tyd gegaan het en baie veranderinge in haar eie lewe moes deurmaak.

“Ek het eendag op YouTube op die liedjie afgekom en ek kon nie ophou daarna luister nie. Ek het oor en oor na die Nederlandse weergawe geluister. Met die aanvang van die inperkingstydperk in Suid-Afrika weens die Covid-19-pandemie het ek weer begin musiek skryf. Ek werk gereeld saam met die manne van Die Heuwels en ek het vir Hunter genader en gesê ek wil iets met dié liedjie maak.”

Sy sê Kennedy moedig haar nog altyd aan om in Afrikaans te skryf, al is dit eintlik haar tweede taal. “Ek het toe my eie lirieke vir die liedjie geskryf en hy het my gehelp om daaraan te skaaf en skuur totdat dit reg was. Hunter het ʼn gawe om dit wat in jou kop is uit jou perspektief te sien en dan die regte woorde te vind. Dit was ʼn baie vinnige proses om saam met Hunter die lirieke af te handel.”

Volgens Lamb het sy vir twee maande saam met ʼn vervaardiger in die ateljee gespook om die liedjie te voltooi.

“Ons het in ʼn hele paar verskillende rigtings ingeslaan met die liedjie. As ʼn sangeres dink ek altyd die liedjies met die hoogste of hardste note is die moeilikste om te sing, maar met ‘Mag ek dan by jou’ was dit nié die geval nie. Dit is só ʼn eenvoudige liedjie, maar dit maak dit juis moeiliker om te sing,” bieg sy.

“Die tema van die liedjie lê ons as Suid-Afrikaners so na aan die hart, omdat ons almal in verskillende realiteite vasgevang is tydens die pandemie. As ons nie op dieselfde plek is in ons harte nie, is dit soveel moeiliker om mekaar te ondersteun. Ons almal is besig om te rou oor die lewe wat ons voor die pandemie gehad het en ek dink die liedjie is iets vir almal wat voel dat hulle alleen is en skuiling in ʼn geliefde wil vind.”

Die sangeres, wat ook as mede-aanbieder van die talentsoekprogram Maak my famous op kykNET te sien is, is ook eersdaags in die aanlyn vertoning Our Light te sien. Die vertoning is in die Baxter-teater in Kaapstad opgeneem.

Sy vertel sy het die liedjies vir die vertoning noukeurig gekies om ʼn verskeidenheid vir haar aanhangers te bied.

“Die musiekreis van Our Light bestaan uit liedjies van hoop, inspirasie, nostalgie en maatskaplike kwessies wat ons as ʼn samelewing in die gesig staar. Dit is ’n platform om die boodskap van hoop te versprei; om te sê daar is regtig ’n lig in elkeen van ons, en as ons kies om ons deur daardie lig te laat lei, kan die wonderwerk van hoop ons as ’n samelewing in hierdie moeilike tyd inspireer.

“Veral Marianne Williamson se geskrewe werk het my diep geroer. Sy skryf dit is ons lig, en nie ons donkerte nie, wat ons die bangste maak, maar deur te maak of jy swak is, beteken jy niks vir die wêreld nie.”

In Our Light sing Lamb van haar eie grootste treffers – van haar dae in die sanggroep Blackbyrd tot nou – sowel as haar weergawe van klassieke nommers deur kunstenaars soos The Carpenters en Chris de Burgh.

Lamb se orkes in die vertoning sluit in Kyle Petersen (klavier), Dane Coetzee (tjello), Darren Petersen (perkussie), Hiram Koopman (saxofoon) en Richard Brokensha (hoof- en baskitaar).

“Ek voel dit is belangrik om met dié nuwe medium van aanlyn vertonings seker te maak daar is steeds ʼn konneksie met die gehoor en dat ons steeds mense deel moet laat voel van die ervaring. Ek het met die kamera gepraat asof dit my beste vriendin is en dit het ʼn veel meer intieme gevoel gebied aan die vertoning,” sê Lamb.

Die Heuwels Fantasties maak ook ʼn draai in die Our Light-konsert. Lamb en dié groep se samewerkingsnit, “Ek mis jou”, verskyn in die groep se jongste album getiteld 2021.

“Die ouens [van Die Heuwels Fantasties] is die sweetste gentlemen in ons bedryf – op die verhoog of in die ateljee, laat die ouens my net altyd welkom voel en hulle maak altyd grappe. Pierre [Greeff, voorsanger] is so behulpsaam as dit kom by die oplaai van my musiek op digitale platforms en Hunter is altyd só bemoedigend as dit kom by lirieke skryf. En Fred [ten Hartog, kitaarspeler en vervaardiger] het die manier om my altyd uit my gemaksone te haal en die grense te verskuif. Ek is mal daaroor om saam met hulle te werk,” sê Lamb.

Die konsert is op Sondag 30 Augustus om 18:00 beskikbaar. Kaartjies kos R120 en is deur Webtickets beskikbaar.

“Mag ek dan by jou” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Wow…!!!
Jy mag.. natuurlik mag jy.. jy mag nie net nie maar jy moet!

Hercules ·

oooooooooo’sim, baaaaaaaija mooi, nee nie jy nie, die lirieke :-) aaag ok, jy’s baie mooi :-) :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.