Musiekvideo: Tyd bring genesing vir Vandiét

Vandiét se video vir ‘Tyd sal leer’ is vandag eerste op Maroela Media te sien.

“Die lewe hou verrassings in, wat ons nie verwag nie. Soms maak dit seer, maar in tyd is daar ook genesing.”

Só sê Vandiét oor die boodskap van haar jongste enkelsnit, “Tyd sal leer”. Die musiekvideo vir die liedjie is pas uitgereik en is vandag (Vrydag) eerste op Maroela Media te sien.

Vandiét vertel dat haar inspirasie vir dié liedjie juis gespruit het uit die feit dat ’n mens nie altyd verstaan hoekom sekere goed om jou gebeur nie.

“Ons sien nie altyd die groter prentjie nie en juis daarom verstaan ons nie altyd hoekom dinge gebeur nie. Goed of sleg, ons moet geloof en hoop hê dat alles ten goede sal uitwerk. Ons moet onthou dat God ’n plan het met elkeen van ons se lewens,” sê Vandiét.

Sy vertel sy het die liedjie geskryf as getuienis van haar eie ervaring. “Ek wil elkeen wat na die liedjie luister bemoedig dat hulle kan uitsien na ’n hoopvolle toekoms. Prediker 3:11 sê: ‘Hy maak alles mooi in sy tyd’.

“As ek terugkyk, is ek dankbaar vir hoe alles uitgewerk het. Ek verstaan nou. As ek myself weer in ’n situasie sal bevind met seer en duisende vrae dan wéét ek: Die tyd sal leer. God is vir my, nie teen my nie.”

“Tyd sal leer” het ’n countrypop-aanslag en oud én jonk sal daarby aanklank vind. Vandiét hoop dat luisteraars die snit sal geniet en noukeurig na die woorde sal luister om die boodskap te kry.

“Ons almal het nodig om te hoor dat daar ’n lewensfees vir ons wag. God het vir ons ’n ewigheidsvisie gegee met ’n hoopvolle toekoms.”

Volgens Vandiét is dit ’n boodskap van hoop en geloof in God. “En ons het God, hoop en geloof nou baie nodig.”

Die musiekvideo is geskiet in die pragtige Calitzdorp en skop af met Vandiét wat as ’n ouer vrou terugdink oor haar lewe.

“Dit was nogal vreemd om myself so as ’n ouer vrou te sien,” het Vandiét laggend vertel.

“Jy is nooit té oud of té jonk om iets te begin en jou drome uit te leef nie. Jy moet die verlede begrawe en voor jou uitkyk.”

“Tyd sal leer” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.