Musiekvideo: Uitdagings laat nuweling-kunstenaar uitstyg

Ashton Wheeler. (Foto: Verskaf)

As jy in jouself glo, kan jy berge versit en dít is juis die boodskap wat die nuweling-kunstenaar Ashton Wheeler met sy enkelsnit, “Twee is beter”, wil oordra.

“Twee is beter” is Wheeler se eerste enkelsnit nadat hy onlangs by Universal Music SA aangesluit het.

Dié liedjie het reeds opslae gemaak op digitale stromingsplatforms en radiostasies landswyd. Die splinternuwe musiekvideo vir die liedjie is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

In die musiekvideo kan Wheeler gesien word waar hy op sy gemaklikste is – op die verhoog agter die mikrofoon.

“Ek hoop regtig mense wil dans as hulle die liedjie hoor, want dit is uit en uit ʼn goedvoel-liedjie,” vertel Wheeler.

Die liedjie beteken vir hom hoop en lewe, sê hy. “As jy in jouself glo kan jy berge versit – en al hoor ʼn mens dit so gereeld, móét ʼn mens dit glo.

“Ek self was al op donker plekke in my lewe en ʼn mens is geneig om te vinnig tou op te gooi en net saam met die samelewing in ʼn rivier af te dryf,” verduidelik hy.

Die liedjie is uit die pen van Faraway George, wat te sien was as een van Elvis Blue se deelnemers in die talentsoekkompetisie Die Kontrak.

“Ons het gevoel dit is ʼn liedjie wat goed sou pas by my styl. Die gehoor sal hulself in die storie van die liedjie kan inleef wanneer hulle alleen op die langpad ry en regtig na die woorde luister,” voeg hy by.

Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music SA, voorspel dat Wheeler nog baie passie en vuur in die Afrikaanse musiekbedryf gaan blaas.

“Sy stem en klank is uniek en van die oomblik wat jy na hom luister, word jy meegevoer,” sê Boshoff.

Ashton Wheeler. (Foto: Verskaf)

Dee Graaff Productions vervaardig Wheeler se musiek, met Ruan Graaff as hoofvervaardiger.

“Ashton het ʼn fenomenale, sielvolle stem,” sê Deon Dee van Dee Graaff Productions.

Wheeler is al van jongs af lief vir sy kitaar en het op die ouderdom van 18 sy eerste lewende vertoning gedoen.

“As ek een persoon kan aanraak en hul lewens positief verander deur my musiek, het ek my doel bereik.”

Hy sê dat die uitdagende tye in sy lewe hom geleer het om op die Here te vertrou.

“Dit het my beslis geleer van geduld en nederigheid en as ek nie deur moeilike tye gegaan het nie sou ek nie die inspirasie gehad het om musiek te kon skryf nie. Dan sou ek mos nooit die geleentheid waardeer het nie.”

Volgens Wheeler was die hoogtepunt van sy musiekloopbaan die dag toe hy by Universal Music SA aangesluit het.

“Dit is soos om beloon te word vir jou harde werk,” het hy gesê.

“Twee is beter” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.