Musiekvideo vereer soldate wat op grens sterf

Touch of Class met Deon van der Merwe en Dusty Dixon (Foto: Verskaf)

Touch of Class met Deon van der Merwe en Dusty Dixon sal op 25 Augustus ʼn musiekvideo by die Voortrekkermonument in Pretoria verfilm ter herdenking van die weermaglede wat tydens die grensoorlog gesneuwel het.

Die musiekvideo vir “Stille Soldate” gaan by die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument opgeneem word ten bate van die Silent Soldiers-organisasie.

Dixon, wat nou saam met Van der Merwe die nuwe stem van Touch of Class is, vertel dat hierdie organisasie hom genader het om ʼn liedjie te skryf.

“Ons wil met ‘Stille Soldate’ mense opnuut bewus maak van die soldate wat met bloed en sweet hulle land probeer beskerm het. Dié soldate en wat hulle vir ons land gedoen het, is maklik vergete,” sê Dixon.

Die Silent Soldiers is ʼn motorfietsklub wat hulle beywer om oudsoldate te eer en te onthou vir hulle durf en daad tydens die grensoorlog. Dié organisasie se lede bestaan meestal uit oudsoldate. Hulle reik ook uit na families wat ʼn geliefde op die grens aan die dood moes afstaan.

Die liedjie “Stille Soldate” gaan oor die soldate wat vir hulle land moes baklei, maar op die ou einde vergeet word. Al wat van hierdie soldate oorgebly het, is hulle name wat op die Muur van Herinnering geskryf staan.

“Die liedjie se naam spreek vanself. Dit gaan oor bloedjonk 18-jarige seuns wat hulle ma’s op die treinstasies moes groet om ewe skielik ʼn man te word wat vir sy land moet veg,” vertel Dixon.

Silent Soldiers is ook die titel van hierdie musiekgroep se nuwe album wat in November vrygestel gaan word.

“Ons het eenkeer ‘Stille Soldate’ by ’n vertoning gespeel. ’n Bejaarde oom het na die tyd na ons toe gekom en ons gesalueer. Die liedjie het vir hom as oudsoldaat al die ou herinneringe weer laat opvlam. Hy het gesien hoe sy vriende voor hom sterf. Trane het by sy oë uitgeloop,” vertel Dixon.

“Ons probeer met die video ’n bewusmaking skep dat mense met soveel deernis en emosie kan onthou hoe die jong manne tydens die grensoorlog ons land beskerm het. En ’n liedjie dring gewoonlik deur tot mense,” sê Van der Merwe.

Van der Merwe vertel dat die verfilming van “Stille Soldaat” ’n emosioneel-belaaide ervaring gaan wees. “Die publiek en die lede van die Silent Soldiers is uitgenooi om saam met ons die dag deur te bring wanneer ons die musiekvideo gaan skiet. Op só ʼn manier kan lede van die publiek ook dié vergete soldate en wat hulle vir die land gedoen het, vereer en in hulle harte dra,” vertel hy.

Van der Merwe vertel dat die Silent Soldiers op die dag met sowat 400 motorfietse gaan opdaag om blommekranse by die Muur van Herinnering te plaas.

Deur die musiekvideo wil hulle dié spesiale dag op kamera verewig. “Ons gaan in die video ook gesels met oud-soldate en onderhoude voer met die mense van die Silent Soldiers-organisasie,” sê Van der Merwe.

Dié herdenkingsdag begin alreeds omstreeks 11:00 waar Touch of Class ’n vertoning om 12:00 die middag sal lewer. Die video gaan deur die loop van die dag verfilm word en die videospan sal laatmiddag vir Van der Merwe en Dixon afneem. Toegang is gratis en lede van die publiek is welkom om die dag by te woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Valerie ·

Mooi gebaar; sal ook een of ander tyd weer die name, gesigte wil sien van al die slagoffers van al die bomontploffings en landmyne wat teen sagte teikens gebruik is. Daar was kinders onder hulle, en ‘n kennis van my se suster is in die Amanzimtoti bom van 23 Desember 1985 dood. Hierdie mense moet ook nie vergeet word nie.
Ek onthou hoe ek as jong vrou in spanning gewag het van nuus van die “border war” af; ons boyfriends en vriende was daar, en daar was baie trane vir die wat nie lewendig teruggekeer het nie.

Tinky ·

Dis beslis n mooi gebaar dis hartseer hoe die jong manne met Al’s in hul geveg het vir ons mooi land en vandag is hul vergete.Ek hoop volgende jaar met die Afriforum Springbok vasbyt wedloop wat gehou word ter ere van die gesneuwelde soldate sing hul die nuwe liedjie dit sal die wedloop nog meer besonders maak en ek weet die 25Aug gaan n dag wees om nooit te vergeet nie nes ons die soldate nie moet vergeet nie want hul het geveg vir ons en ons mooi land en hul het alles gedoen en gegee tot hul lewe vir ons hul het geen keuse gehad nie

George in Bloem. ·

Sterkte met jul video. Ek glo dit sal ‘n sukses wees!

Duppie ·

Dit is so dat mens sekere goed in jou lewe eerder wil vergeet en dit eenkant toe skuif, maar dit is en was iets wat wel gebeur het en NIKS kan dit wegvat nie. Niks kan dit wegvat as jy gesien het en ervaar het hoe jou buddies doodgaan en dan word al julle opofferinge net eenvoudig weggevee en vergeet deur die politieke leiers. Dieselfde mense wat ons verplig het om te gaan veg, is ook dieselfde mense wat ons veraai het. Dit was al erg genoeg om dit alles te ervaar, maar om dan nog sommer net so weggegooi te word en verkieslik vergeet van te word, maak jou mond bitter. Dankie aan die wat opstaan en nie vergeet nie, dit maak die seer van alles wat jy gesien en beleef het, beter en bietjie meer aanvaarbaar in die omstandighede van vandag. Aan al daai wat nie huistoe gekom het, ons sien mekaar weer eendag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.