Musiekvideo: Verlange na familie inspireer CheraLee

CheraLee. (Foto: Verskaf)

Die verlange na haar broer en suster wat albei na die buiteland geëmigreer het, het die sangeres en liedjieskrywer CheraLee se nuwe lied, “Plekkie onder die son”, geïnspireer.

Haar suster het sowat 12 jaar gelede na Kanada geëmigreer en haar broer het ook intussen na Swede verhuis. Dit het gelei tot dié Afrikaanse kontemporêre snit uit CheraLee se pen.

“Ná al die tyd in die buiteland verlang my suster nog steeds vreeslik na Suid-Afrika en haar familie. Sy bly in ʼn land waar die omstandighede heelwat beter is as hier, maar haar hart hunker nog na haar Afrika-geboorteland, sy mense, natuurskoon en haar geliefdes,” verduidelik CheraLee die inspirasie agter die tema van die snit.

“Vir ons wat hier in Suid-Afrika agterbly is die verlange nie lekker nie. Ek het die liedjie vir my sussie geskryf om haar moeilike besluit om te emigreer uit te beeld.”

Dit is ʼn besluit wat talle Suid-Afrikaners in die gesig staar en waarmee hulle kan vereenselwig. “Dit is ʼn ongelooflike moeilike besluit om alles wat jy ken en geken het, agter te laat en ʼn nuwe lewe êrens anders te begin.”

Volgens CheraLee dink baie mense ook dat die “gras groener is aan die ander kant”.

“Gelukkig is ons as Suid-Afrikaners baie veerkragtig en ons is begaafd om altyd die goeie in ʼn slegte situasie raak te sien.

“Ons as Suid-Afrikaners verdien ook ʼn plekkie onder die son, ʼn plekkie waar ons aanvaar word vir wie en wat ons is, ’n gelukkige lewe kan leef saam met ons geliefdes, sonder om bang te wees, al is dit nie onder die Afrika-son nie.”

Die musiekvideo, wat vandag (Vrydag) uitgereik word, se storielyn volg ’n gesin en ’n groepie vriende wat op ’n safaririt is tydens hul Bosveldvakansie. Op die rit sien hulle kameelperde en stop dan by ’n watergat waar hulle uitklim en foto’s neem. Hulle sluit die aand af met ’n geselligheid by die braaivleisvuur.

CheraLee vertolk die liedjie met haar kitaar in verskeie uitrustings en omgewings. “My hele gesin en van ons gesinsvriende was ook deel van die opnames, wat dit baie spesiaal maak,” het sy gesê.

“Plekkie onder die son” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wikkie ·

Die lirieke slaan so raak. Dis ons almal se Afrika. Selfs ons taal word Afrikaans genoem, om dat dit híér, in Moeder Afrika gevorm is. Elkeen van ons verdien ‘n plekkie onder die son. Ten spyte van al die negatiewe dinge, kies ek steeds my plekkie onder die Afrika son. Maar ek verstaan ten volle watse worsteling dit vir mense is. Mag die Skepper van die son, gee dat hierdie land weer die trekpleister word wat dit voorheen was. En dat almal weer hul plekkie onder híérdie son wil kom vestig.
Dankie vir híérdie liedjie Cheralee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.