Musiekvideo vir Douvoordag se ‘Die avontuur’ vrygestel

Ilse en Jattie de Beer van Douvoordag. (Foto: Verskaf)

Ilse en Jattie de Beer van Douvoordag. (Foto: Verskaf)

Douvoordag, wat bestaan uit die egpaar Ilse en Jattie de Beer, maak al bykans ʼn dekade lank saam musiek en hul lankverwagte musiekvideo vir die snit, “Die avontuur”, is nou uitgereik.

Hul debuutalbum, waarvan “Die avontuur” die titelsnit is, het in Oktober verlede jaar die lig gesien en bevat 14 snitte uit Jattie se pen. Dit het vier jaar geneem om die album te skryf en te vervaardig.

Die snit “Die avontuur” is gedurende die laaste week van Januarie vrygestel en kan reeds op meer as 40 radiostasies landwyd gehoor word. “Die avontuur” het ook blitsvinnig die ranglys van OFM se Top 10@10-treffersparade betree en pryk tans in die nr. 4-posisie.

Die video, wat geskiet is by Loft at Nine in Pretoria en verskeie ander plekke wat relevant is tot die storielyn, is vervaardig deur Ian Nieuwenhuizen en sy span van White Motion Films.

“’Die avontuur” nooi luisteraars om op te hou wag vir ʼn beter lewe en die kanse te vat en dinge te doen waaroor jy nog altyd droom,” sê Jattie.

Die konsep van die video vertel daarom die verhaal van ʼn dogtertjie wat die televisie aansit en haar lewe op die kassie sien uitspeel.  Sy sien al die spesiale oomblikke wat sommige as gewoon sal beskou, maar dit is juis hierdie oomblikke wat die kern van die avontuur van haar lewe vervat.

Wanneer die video tot ʼn einde kom, fokus dit weer op die dogtertjie, maar nou is sy ʼn ouer vrou en die kyker besef dat sy teruggekyk het op haar lewe en besef sy het weliswaar geleef.

“Dit laat die gedagte en besef ontstaan dat ons almal eendag op ons oudag gaan terugkyk na die lewens wat ons geleef het. Gaan ons hou van wat ons sien?  Was daar vrees, ʼn gejaag na wind en spyt? Of was daar liefde, hoop en betekenis?” voeg Jattie by.

Ilse en Jattie kom albei uit musikale families en sing sedert hul skooldae. Ilse was ʼn lid van die Stellenberg‑meisieskoor, Pro Cantu‑jeugkoor en die Stellenbosch Universiteitskoor, terwyl Jattie in die Affies‑seunskoor en Tukkies se Camerata-koor gesing het.

Jattie is ook vier jaar agtereenvolgens bekroon met die prys vir Beste Oorspronklike Komposisie tydens Tukkies se jaarlikse serenade-kompetisie. Jattie en sy groep Vertikaal het in 2009 ʼn SAMA-toekenning vir hul tweede album, Stil, gewen.

Die Avontuur is op alle digitale platforms en by groot musiekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.