Musiekvideo: Voormalige beroepsjagter Boerkie sing nou oor verlore liefde

Boerkie.

“Ek wou jou lankal bel”, Boerkie se debuutenkelsnit uit sy eie pen, vertel die verhaal van ʼn ou wat sy gewese meisie wil bel om vir haar te sê hoe lief hy haar eintlik het.

Byron Khuntz het saam met Boerkie gewerk om die snit te vervaardig.

“Ek het hierdie liedjie geskryf toe ek maar standerd vyf was,” sê Boerkie oor waar die lirieke vandaan kom.

“Jy weet mos hoe verlief ʼn skoollaaitie kan raak. Al was ek nog nat agter die ore toe ek dit geskryf het, kan mense hulle nog steeds met die tema vereenselwig.”

Hy meen dat daar nie regtig ʼn storie agter die ontstaan van die liedjie is nie, maar dat dit net ʼn vars, nuwe liedjie met ʼn mooi melodie is wat luisteraars sal kan geniet.

Daar was wel deur die jare ʼn paar meisies op wie die liedjie van toepassing was, en daardeur het die idee van die lirieke ʼn praktiese waarheid geword.

Musiek is onlosmaaklik deel van dié veelsydige musikant, en vandat hy kan onthou, sing en skryf hy al liedjies.

As kind het hy opgetree by troues en in 1982 het hy in die Drakensbergseunskoor begin sing. Van toe af het hy elke geleentheid aangegryp wat sy pad gekruis het.

“Vandag tap ek inspirasie vir nuwe liedjies uit die warboel gedagtes in my kop en dan slaan ek pen aan papier. Ander kere sal mense my vra om oor iets spesifieks te skryf en dan doen ek dit ewe moeiteloos,” sê Boerkie.

Boerkie se musieksmaak strek wyd. Hy hou van rock, pop, country en is ook lief vir Afrikaans. Hy voel dat sy stem van so aard is dat hy enige musiekstyl en genre lekker kan sing.

Koos du Plessis was nog altyd sy rolmodel en het sy musiekreis beïnvloed. As hy dink aan kunstenaars in die bedryf met wie hy nog graag sal wil saamwerk, meen hy dat enigiemand wat graag saam met hóm wil werk, die perfekte pasmaat sal wees.

Al is hy nog nie lank in die musiekbedryf nie, het hy reeds geleer om aan te hou droom en nie moed op te gee nie.

As ʼn gewese jarelange beroepsjagter, is dié talentvolle man uiteraard baie lief vir die bos. Hy reken wel dat hy nou genoeg gejag het en eerder op sy boerdery wil fokus.

“Soos elke ander kunstenaar, is die feit dat my liedjies uiteindelik gehoor gaan word vir my ʼn groot hoogtepunt in my loopbaan. My wens en doel is om soveel mense as moontlik met my musiek te bereik.”

“Ek wou jou lankal bel” is nou beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.