Musiekvideo: William Wolf is gereed vir somerpret

Net betyds vir die sonnige seisoen bring die musikant en liedjieskrywer William Wolf vir ons sy jongste enkelsnit, “Somer”.

Dié popliedjie is die tweede enkelsnit vanaf sy album, Liefde gemaak, wat vroeër vanjaar vrygestel is en spog nou ook met ’n splinternuwe musiekvideo.

“In ‘Somer’ sing ek van twee mense wat mekaar ontmoet en sommer dadelik, met die eerste oogopslag, verlief is,” vertel Wolf.

“Ek wil die boodskap oordra dat ’n mens in die oomblik moet leef, én dit geniet.”

Met dié “blom waar jy geplant is”-tema wil Wolf ook mense help om af te skakel van alles wat in die wêreld rondom hulle aangaan.

“Ek dink ons het vandag, meer as ooit tevore, nodig om te vergeet van alles wat sleg is in die wêreld.”

Met treffer ná treffer uit Wolf se pen kan luisteraars uitsien na nog ’n oorwurm wat hulle herhaaldelik sal wil luister.

Die musiekvideo vir “Somer” is in die Kaap geskiet en handel oor ’n groep jongmense wat die lewe geniet. Die tonele speel by Bakoven-strand naby Kampsbaai en in die Kloofstraat-gebied af.

Dié musiekvideo is vandag (Donderdag) eerste op Maroela Media te sien.

Wanneer jy Wolf vra wat sy planne vir die toekoms is, antwoord hy vinnig dat hy graag Frozen 4 se temaliedjie wil skryf.

“Dit sal heel gepas wees, want deur die liedjies wat hy vir medekunstenaars skryf, bied hy die perfekte sprokiesverhaal aan ander,” sê Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van The Marketing Zoo, wat Wolf se bemarking hanteer.

Wolf was in 2003 deel van die Suid-Afrikaanse rockgroep Soul Proxy en dié tyd is een van die hoogtepunte wat vir hom uitstaan.

William Wolf (Foto: Verskaf)

“Ek was saam met Ewald Jansen van Rensburg, wat my album opgeneem het, deel van Soul Proxy en het ’n somertoer saam met die internasionale band, Seether, en Grammy-wenner Amy Lee van die musiekgroep Evanescence gedoen,” onthou Wolf.

“Dit was ’n ongelooflike tyd met uitverkoopte konserte aand ná aand.”

Wolf het reeds vanaf ’n jong ouderdom ’n liefde vir musiek en is nou reeds 20 jaar in die musiekbedryf.

Hy vertel dat hy nog eendag saam met John Mayer wil werk, of saam met Max Martin musiek wil skryf. Plaaslik sal hy saam met Pierre Greeff en Francois van Coke wil werk.

“Die kontras in ’n mens se lewe staan altyd vir my uit: vreugde én hartseer,” sê hy.

En juis dít inspireer hom om te skryf.

“Die mensdom kan nogal interessant wees. Dit voel soms asof ek van die kantlyn af toekyk hoe die wêreld voor my afspeel, maar dit is ook belangrik om ons daaraan te herinner om die lewe nie te ernstig op te neem nie. So, ek probeer die humor ook in alles sien.”

Wolf het ook die treffers “Tafelberg vir twee” wat uitgevoer word deur Brendan Peyper, Pieter Koen se “’n Man kan ook huil”, Martin Bester se “Ou spoor”, Willem Botha se “Soen en vergeet” en Lee Scott se “Perfekte vreemdeling” geskryf.

Hy is in 2008 as wenner van die ATKV Crescendo se Liedjieskryfkompetisie aangewys.

“Somer” is nou beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Somer”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.