Musiekwerkswinkel vir jong musikante

Daar is baie talentvolle musikante, beide ervare en onervare, wat sukkel om musiekdrome te verwesenlik omdat hulle, uit onkunde, die verkeerde besluite neem en dikwels in slaggate trap wat die potensiaal het om hulle musiekloopbaan op die plek te kelder.

Alhoewel dit baie positief is dat daar so baie aspirante sangers en musikante in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is, is dit tog kommerwekkend hoeveel kunstenaars duisende rande mors op enkelsnitte en albums wat geen resultate lewer nie, aangesien dit nie reg benader of bemark word nie.

Omdat hulle glo kennis is mag, het Hugo Ludik (Muse Productions), Vaughan Gardiner (Muse Productions) en Alishia van Deventer (Starburst Promotions) besluit om kragte saam te span om ʼn werkswinkel aan te bied vir opkomende sangers, musikante, bestuurders en agente om die bedryf beter te verstaan en die toekoms meer toegerus te benader. Hierdie werkswinkel word met trots ondersteun deur GROOTfm 90.5, Maroela Media, ATKV, ATKV-Crescendo en die FAK.

“Dit is altyd vir ons ’n voorreg om betrokke te wees by projekte waar die doel is om mense te bemagtig, op te lei en met vaardighede toe te rus,” sê die ATKV se Reinard du Plessis. “Ons sien uit na die uitkomste van die werkswinkel en die impak wat die bywoners op die musiekbedryf gaan hê.”

Hierdie werkswinkel vind op Saterdag, 20 Julie 2019, plaas en gaan in ’n oggendsessie (08:30 – 12:00) en middagsessie (13:00 – 17:00) verdeel word om vir meer mense die geleentheid te bied om saam met die nodige kennis en regte rolspelers die toekoms aan te pak. Die werkswinkel word by GROOTfm 90.5 se kantore (Bloukransgebou, Lynnwoodbridge Mall, Daventryweg 4, Lynnwood Manor) aangebied en die werkswinkel sluit ook ’n toer in van dié gewilde radiostasie.

Eugene Lottering van Maroela Media voeg by: “Dis vir Maroela Media baie belangrik om betrokke te raak by dié projek, omdat ons graag jong kunstenaars wil aanmoedig om hulle eie voetspoor in Afrikaans na te laat.”

Tydens die verrigtinge sal onder andere van die volgende onderwerpe oor die musiekbedryf aangespreek word:
– Wie die rolspelers is en hoe almal mekaar aanvul;
– Hoe om jouself voor te berei voordat jy die onderskeie rolspelers begin kontak;
– Die waarde van ’n behoorlike produk;
– Die verskil tussen publisiteit en bemarking;
– Wat kopiereg is en hoe dit in die musiekbedryf pas;
– Wat die wet sê oor kopiereg en wat mites is;
– Wat ’n A&R (kunstenaar & repertoire) is en wat is sy/ haar rol;
– Wat die rol van ’n platemaatskappy is in vandag se tyd;
– Wat dit behels om ’n onafhanklike kunstenaar te wees;
– Hoe om ’n lid van SAMRO te word; en
– Wat dit behels om ’n kunstenaar te wees.

Kenners met jarelange ondervinding in die bedryf gaan aan die woord wees op die dag om raad, leiding en antwoorde te gee waarna opkomende sangers daagliks soek en nie weet waar om te kry nie.

Aanbieders

Starburst Promotions is ʼn bekende publisiteitsmaatskappy in die land en verteenwoordig al vir meer as ’n dekade lank van die land se grootste sterre, waaronder Jo Black, ADAM, Saarkie, Joshua na die Reën, André Schwartz, Kaleidoskoop, Len Muller, Jak de Priester en vele meer. Die hoof- uitvoerende beampte en stigterslid, Alishia van Deventer, spesialiseer in publisiteit en bemarking in die vermaakindustrie en is baie nou betrokke by die beplanning, bemarking en implementering van talle projekte vir platemaatskappye, onafhanklike sangers en rolprente soos Pad na jou Hart, Leading Lady, Ballade vir ’n Enkeling, Ellen – Die Ellen Pakkies Storie, Noem My Skollie, Stroomop, Vir die Voëls en vele meer. Sy kombineer ’n sterk korporatiewe agtergrond met dié van die vermaakbedryf en lewer suksesvolle resultate.

Hoe die verskillende rolspelers in die musiekbedryf by mekaar pas, hoe bemarking en publisiteit verskil, effektiewe kommunikasie en die doeltreffende gebruik van sosialemediaplatforms is alles temas waaroor sy op die dag sal uitbrei.

“Oor die afgelope jare, het ons self in verskeie slaggate getrap of gesien hoe ander dit doen,” sê Alishia. “Ons voel dis onnodig en wil graag die kennis, wat ons oor die jare opgebou het, met mense deel om sodoende ’n positiewe bydrae te maak tot die bedryf waarvoor ons so lief is.”

Vaughan Gardiner is ’n bekende sanger, liedjieskrywer, akteur en mede-stigterslid van Muse Productions. Hy was maar agtien toe hy Mozi Records se eerste kunstenaar geword het. Sy eerste enkelsnit, “Gooi Jou Arms Om My” – vanaf sy debuut-album, Wie Ek Is – is baie goed ontvang en was die begin van ’n baie suksesvolle loopbaan, wat gelei het tot verskeie radiotreffers, nominasies en toekennings. Hy skryf al vir verskeie jare trefferliedjies vir groot kunstenaars soos Lianie May, Bok van Blerk en Nádine en was ook een van die vervaardigers van die Afrikaanse musiekfliek Platteland se temalied. Buiten vir sy kreatiewe kant, spog hy ook met ’n Rekeningkundegraad van die Universiteit Stellenbosch en ’n nagraadse diploma in Intellektuele Goederereg.

“Die musiekbedryf bly ’n besigheid. Ons, as kunstenaars en musikante, moet weet hoe om onsself te beskerm,” meen Vaughan. Hy sal tydens die werkswinkel kopiereg en musiekwette in diepte bespreek.

ADAM se stigterslid, Hugo Ludik, is ’n gevestigde liedjieskrywer en die wenner van Huisgenoot Tempo se eerste liedjieskrywerskompetisie (2008). Sedertdien het hy alle talle bekroonde treffers op sy kerfstok soos “Liefde Soldaat”, “Somerlag” (Coca-Cola), “Papsopwinterwaternat”, “Hoogtevrees”, “Vergifnis” en nog baie meer. Omdat hy ’n bekende musiekvervaardiger, sanger en medestigterslid van Muse Productions is en gereeld nuwe talent ontdek, word hy gereeld vir raad gevra oor hoe om ’n voet in die musiekbedryf te kry.

Daarom gaan hy fokus op platemaatskappye, onafhanklike kunstenaars, SAMRO, optredes en musiekvervaardiging gedurende sy deel van die werkswinkel. Hy sê: “Net soos met enige ander beroep, kan jy nie baie ernstig wees oor jou musiekloopbaan as jy nie ten minste ’n behoorlike kennis-fondasie het van hoe die bedryf werk nie. Jy kan nie enige onderneming suksesvol bestuur as jy nie goed ingelig is nie.”

GROOTfm 90.5 se musiekbestuurder, Pieter Cloete, sal meer lig werp oor wat nodig is om speeltyd vir jou musiek op die radio te kry en ’n bekende kunstenaar sal meer kom vertel van die pad wat hy moes loop om bo uit te kom.

Kaartjies kos R950 per persoon en kan bespreek word by Gizela Arndt deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] Dit sluit ligte verversings en drinkgoed in. Daar is slegs 20 plekke per sessie, so belangstellendes sal gou moet spring om teleurstelling te voorkom.

“Ons wil graag opkomende sangers toerus met die nodige kennis om hulle voete te vind en ’n geheelbeeld oordra van die wisselwerkings in die bedryf, gevaartekens uitwys en ’n positiewe bydrae maak tot die ontwikkeling van die musiekbedryf,” sluit die organiseerders af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.