Musikale reis wag op Oudtshoorn-gehore

Sopraan Lynelle Kenned is saam met pianis Stefan Lombard by die Klein Karoo-fees te sien in ‘Song Treasures’. (Foto: Verskaf)

ʼn Musikale reis deur die wêrelde van opera, tradisionele en kontemporêre kunsmusiek, asook melodieë uit musiekblyspele wag in September op musiekliefhebbers in Oudtshoorn.

Die Klein Karoo Klassique-fees strek vanjaar oor ʼn paar maande en word as ʼn reeks klassieke musiekkonserte in Oudtshoorn aangebied.

Sopraan Lynelle Kenned keer saam met pianis Stefan Lombard terug na die Klein Karoo-fees met Song Treasures. Dié intieme uitvoering is saamgestel uit gewilde klassieke musiek van Handel en Mozart, asook plaaslike skatte deur Bernstein en Steyn. Song Treasures word deur Klein Karoo Klassique en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied.

“Ons sien daarna uit om Lynelle Kenned en Stefan Lombard met hierdie uitvoering op Oudtshoorn te verwelkom. Dit is ʼn heerlike musiekreis deur die eeue en bied ʼn wonderlike geleentheid vir plaaslike musiekgehore om weer musiek deur van ons land se bestes te beleef,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Kenned het by die Universiteit van Kaapstad Operaskool, onder leiding van prof. Virginia Davids, studeer. Sy het verskeie pryse ontvang en dit sluit in ʼn Fleur du Cap-prys (2016), ʼn Fiësta-prys (2017), ʼn Naledi-prys (2018) en die Kunste Onbeperk-prys vir ʼn Jong Stem (2019).

Kenned is gereeld op die verhoog te sien, met klassieke optredes as solis in onder meer The Messiah, Easter Oratorio, St Matthew Passion, Jauchzet Gott in allen Landen, Brahms se Requiem, Handel se Gloria, asook Vivaldi se Gloria.

Lombard is een van Kaapstad se mees gesogte en veelsydige musikante wat ʼn wye reeks in die repertorium speel, van klassieke kamermusiek, musiek vir twee klaviere en opera tot konsertmusiek.

As pianis het Stefan Lombard al saam met die meeste van Suid-Afrika se voorste orkeste opgetree, as solis én orkestrale instrumentalis. (Foto: Verskaf)

As pianis het Lombard al saam met die meeste van Suid-Afrika se voorste orkeste opgetree, as solis én orkestrale instrumentalis. Hy het saam met die oorlede Steven de Groote by die Arizona State University studeer en besluit om sy BMus-graad in klavieropvoering by die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Lamar Crowson en Laura Searle te voltooi. Hy het ook onder leiding van Renna Kellaway aan die Royal Northern College of Music in Manchester, Engeland, studeer.

Kenned en Lombard se program sluit in Handel se Lascia ch’io pianga, Gonoud se Je veux vivre, ʼn Mozart-medley van Non so piu en Voi che sapete, asook musiek uit West Side Story, The King and I, Showboat en The Phantom of the Opera in.

Song Treasures word Saterdag 18 September om 15:00 en Sondag 19 September om 11:00 in die Klein Karoo Ostrich Emporium uitgevoer. Slegs 50 kaartjies is per uitvoering beskikbaar. Kaartjies kos R150 en is by Quicket beskikbaar.

Alle Covid-19-maatreëls sal gevolg word en lede van die gehoor moet te alle tye hulle maskers dra.

G. Puccini se pragtige dog tragiese verhaal, La bohème, is ook daardie naweek in Oudtshoorn te sien. Dit word deur die Kaapstad Opera uitgevoer en vorm deel van die Judith Neilson Cape Town Opera National Tour.

La bohème word Saterdag 18 September om 19:00 en Sondag 19 September om 15:00 in die Burgersentrum aangebied. Die 50 kaartjies per uitvoering is ongelukkig reeds uitverkoop, maar belangstellendes kan vir Daleen Witbooi by die KKNK-kantoor by 044 203 8600 bel. Name word dan op ʼn waglys geplaas vir ingeval die inperkingsregulasies verslap word en meer mense in die venue toegelaat kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.