Musikant en sy gesin verruil SA vir Britse platteland

Nathan Smith. (Foto: Verskaf)

Menige Suid-Afrikaanse musikant droom daarvan om sy of haar vlerke buite die grense van die land te sprei. Dié droom word eersdaags vir die kitaarspeler en liedjieskrywer Nathan Smith bewaarheid wanneer hy en sy gesin die sonnige Afrika-vasteland vir Brittanje verruil.

Die Smith-gesin verhuis einde Februarie sak en pak na Milton Keynes, ʼn plattelandse dorpie sowat 80 km noord-wes van Londen.

Smith, wat by verskeie Suid-Afrikaanse produksies soos The Voice, Noot vir noot, Skouspel, Idols, Afrikaans is Groot, Dancing with the Stars en Strictly Come Dancing betrokke was, vertel hy en sy vrou, Jackie, het besluit om nie hul kinders in die besige strate van Londen groot te maak nie.

“Met die spoedtrein is Londen net ʼn klipgooi van Milton Keynes. Ons wou die kinders eerder ʼn plattelandse leefstyl bied waar hulle die natuur kan beleef en geniet,” verduidelik Smith.

As alles goed verloop sal die Smith-egpaar en hulle spruite, seun Levi (10) en dogter Amber (9), teen dié naweek reeds op Britse bodem wees.

“Milton Keynes het die voordeel dat dit voel soos ʼn groter dorp, maar dit is klein. Dit is ʼn redelike nuwe Engelse dorpie en het mere en woude net ʼn paar minute weg van winkelsentrums en ander aktiwiteite. Ons geniet die buitelewe en wanneer ek oorsee reis pak ek ook altyd my draftekkies in. Ek sien uit daarna om die paaie daar te verken.”

Smith het in Oktober verlede jaar met behulp van ʼn Britse advokaat die aansoekproses vir ʼn Tier 1 Global Talent visum begin. Hy vertel die visum is binne enkele dae goedgekeur.

“Ons was baie verbaas omdat hierdie proses so lank as agt weke kan neem. Ek voel so geseënd omdat daar jaarliks min aansoeke in hierdie kategorie goedgekeur word.”

Smith erken dat dit ’n emosionele tyd is vir hulle almal, hoewel hulle opgewonde is en uitsien na die nuwe avontuur.

“’n Mens het maar gemengde gevoelens. Aanvanklik is daar opwinding, maar soos wat die proses verloop, raak dit moeiliker. Ons moes ons troeteldiere weggee en die huis verkoop waarin die kinders grootgeword het, die enigste huis wat hulle nog ooit geken het. Dit was moeilik om uit die huis te trek, maar daar is baie opwinding oor die nuwe geleenthede wat vir ons wag.

“Ek het in die verlede saam met verskeie kollegas en musiekregisseurs getoer en gewerk wat tans in die West End betrokke is en daar is ’n paar moontlikhede wat ek wil ondersoek. Verder het ek ook reeds ’n besprekingsagent gekry om konserte te bespreek sodra sakeondernemings weer open. Daar is ook vir my ’n paar geleenthede om klas te gee.”

Hy is veral opgewonde oor die feit dat hy nou die geleentheid het om sy album, Here’s To the Now, ook in Brittanje bekend te stel.

Van sy loopbaanhoogtepunte sluit in oorspronklike verwerkings vir verskeie Wêreldbeker-sokkergeleenthede in 2010, asook vir Joseph Clark – The Music of Queen, wat plaaslik en in Europa getoer het.

Hoewel sessiemusiek toevallig oor Smith se pad gekom het, het dit hom onder meer die geleentheid gegee om saam met groot internasionale en plaaslike sterre soos Ronan Keating, Richard Clayderman, Riana Nel, Laurika Rauch, Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis te werk.

Smith meen egter dit is nie “vaarwel” nie, maar eerder “totsiens”. “Dit is net die volgende stap. Ek sien uit daarna om in die toekoms terug te keer na hierdie wonderlike land om hier te werk en dit te geniet vir wat dit is… fantasties!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Slim
Indien ek kon laai ek more my kinders op n vliegtuig.

Johan

Dis ‘n groot skuif en ‘n mens kan die gesin net die beste toewens. Milton Keynes is egter alles behalwe ‘n klein dorpie in Buckinghamshire. Tydens ons verblyf in Engeland het ons die besonderse plek dikwels besoek. Van 1960 af moes plekgemaak word vir die oorbevolking in London en is begin om behuising op die platteland te verskaf. Vandag is Milton Keynes, met ‘n bevolking 250 000 die modernste stad in wording in Engeland. Die uitleg van die stad is uniek en baie aandag word gegee verkeersvloei en oop ruimtes met heelwat mere wat benut word vir sport en bloot… Lees meer »

Hennie

Seker die beste geskenk wat jy aan jou gesin kan gee is om SA te verlaat vir ‘n beter en veilige lewe.