Musikante span saam om hartoperasies vir kinders te finansier

Kerry Ellis, dr Wilhelm Lichtenberg, Brian May en die Soweto Gospel Choir het saamgespan om geld in te samel om hartoperasies vir kinders in Afrika te finansier. (Foto: Verskaf)

Wat het ʼn Rock-legende, ʼn West End-ster en ʼn singende hartchirurg buiten hulle liefde vir musiek gemeen?

Die antwoord is ʼn gesamentlike vasberadenheid om die harte van kinders in Afrika aan die klop te hou.

In ʼn nuwe inisiatief genaamd Young Hearts Africa het dr. Wilhelm Lichtenberg, ʼn kardiotorakale chirurg van Kaapstad, kragte saamgesnoer met die Queen-legende Brian May, die West End- en Broadway-superster Kerry Ellis en die dubbele Grammy-bekroonde Soweto Gospel Choir.

May het Queen se mega-treffer “Who Wants To Live Forever” vir die rolprent Highlander in 1986 geskryf. Sedertdien het dit een van die mees herkenbare melodieë van alle tye geword.

Die bekende lied is nou opgeknap vir die eerste projek in die Young Hearts Africa-inisiatief. Riaan Steyn het aan die snit ʼn unieke en skouspelagtige klassieke rock-oorskakelstyl gegee.

Steyn is die musikale genie agter Young Hearts Africa en spog met ʼn lang lys prestasies as komponis, verwerker en musiekvervaardiger. Hy is die direkteur en uitvoerende hoof van Traxtudio International in Kaapstad en het hier andermaal sy towerstaf geswaai om ʼn werk te skep wat deurdrenk is met ryk Afrika-klanke sonder om die patos en emosie van die oorspronklike weergawe in te boet.

In kombinasie met Ellis se helder klank, wat op Broadway en in Londen se West End geskool is, Lichtenberg se suiwer, kragtig swewende tenoorstem en die onmiskenbare energie van die Soweto-koor, neem May se onmiskenbare kitaarspel die konsep van simfoniese rock na ʼn nuwe vlak. May het self die verwerking as “pure genialiteit” beskryf.

(Foto: Verskaf)

Kardiovaskulêre siektes is die derde mees algemene oorsaak van dood in Suid-Afrika en die res van die Afrika-vasteland.

Dr. Lichtenberg sê dat hartsiektes by kinders ʼn verwoestende las op gesinne en gemeenskappe plaas, en die voorkoms in Afrika suid van die Sahara is byna tien keer hoër as in ontwikkelde lande.

“Met die wêreldwye krisis tans sal hierdie situasie verder vererger en namate hulpbronne elders aangewend word, sal die lewensverlies onder die kwesbaarste lede van die bevolking van hierdie gebiede, dit wil sê hulpelose jong kinders, hele gemeenskappe verwoes.”

Geld wat deur hierdie inisiatief ingesamel word, word geskenk aan The Children’s Cardiac Foundation for Africa en die 1 000 Hearts-projek van die Christiaan Barnard-departement vir kardiotorakale chirurgie by die wêreldbekende Groote Schuur-hospitaal, asook die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

“Niemand kan vir ewig lewe nie,” sê dr. Lichtenberg, “maar deur die geld in te samel wat nodig is om die harte van die kinders van Afrika aan die klop te hou, kan ons voortbou op ʼn erfenis wat ons kinders sal dien lank nadat ons weg is.”

  • Besoek Young Hearts Africa se webwerf vir meer inligting oor die projek.
  • Kyk die musiekvideo van die nuwe weergawe van “Who Wants To Live Forever” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frieda

Fantasties