My hart bly in ’n taal

Verskaf aan Maroela Media

Verskaf aan Maroela Media

My hart bly in ’n taal – Refentse

Dit is vanjaar 40 jaar sedert jongmense in Soweto moleste gemaak het om beswaar te maak teen Afrikaans as onderrigtaal.

Intussen het Suid-Afrika ’n volle demokrasie geword, en Afrikaans het sy status as uitsluitlik ’n blanke taal afgeskud. Nogtans was daar nog min nie-blanke kunstenaars wat sukses met Afrikaanse musiek behaal het. Dr. Victor en Lloyd Cele het wel Afrikaanse liedjies opgeneem, maar daar was nog nie regtig iemand wat met ’n hele album in Afrikaans vorendag gekom het nie, behalwe vir Tiro, wat in Namibië gebore is.

Dit gaan byna vir seker verander, want Refentse Morake, wat net onder sy naam sing, het pas sy debuutalbum, My hart bly in ’n taal, vrygestel. Hy praat vlot Afrikaans, en het selfs twee van sy eie komposisies ingesluit. Die eerste snit op die album is egter ’n uitstekende weergawe van Valiant Swart se pragtige komposisie “Sonvanger”. Die lae register waarin hy sing, klink baie goed, en daar is hoegenaamd niks met sy uitspraak verkeerd nie. Die eerste van sy twee oorspronklike komposisies, “Oom Faan se plaas”, gaan ’n reuse treffer word, en hopelik sal dit sommer binnekort op radiostasies landwyd gehoor word. Refentse se weergawe van “Ou ryperd” is weer eens uitstekend, en dit kan dalk net van voor af ’n treffer word. Nog ’n legendariese treffer wat hy op die album ingesluit is en baie beslis gereeld oor die radio gespeel kan word, is “Blommetjie gedenk aan my” van Anton Goosen. So opgewek as wat “Oom Faan se plaas” is, so rustig is sy ander komposisie, “Baby, wat eet ons vanaand?”  David Kramer sal sekerlik trots wees op Refentse se weergawe van “Meisie sonner sokkies”, wat baie beslis so goed soos die oorspronklike een is, indien nie beter nie. “Bicycle sonder slot” was seker een van Koos Kombuis se grootste treffers en hier is Refentse se weergawe uitstekend.

Daar was nog niemand wat dit gewaag het om Steve Hofmeyr se treffer “Pampoen” op te neem nie, en Refentse is die eerste kunstenaar wat dit gedoen het. Refentse is nie die eerste kunstenaar wat “Sally Williams Nougat” in ’n laer register as Jak de Priester sing nie; Wynand Strydom het dit ook al gedoen. Hoe ook al, dit klink uitstekend. Die laaste snit wat hy volledig opgeneem het, is “Halala Afrika” van Johannes Kerkorrel, wat baie goed by hom pas. Op Refentse se opname is daar ook ’n koor in die agtergrond, maar daar word nie gesê wie presies dit is nie. Op die laaste twee snitte bring Refentse hulde aan twee legendes van Afrikaanse musiek met keurspele van onderskeidelik Laurika Rauch en Koos du Plessis. Veral sy weergawe van “Kinders van die wind”, wat deel van albei sou kon uitmaak, maar deel van die Koos du Plessis-keurspel is, verdien spesiale vermelding. Hy sukkel glad nie om dieselfde lae note as Koos self te sing nie, en daarby stem sy weergawe meer ooreen met Koos se weergawe as met Laurika s’n.

As ’n mens na Refentse luister, kry jy sommer weer hoop vir die toekoms van Suid-Afrika, en vir die plaaslike musiekbedryf. Hierdie album breek grense af te midde van ’n hernieude aanslag op Afrikaans, veral as onderrigtaal, en dit slaan die mite dat Afrikaans ’n blanke taal is, die nek in. Daarby is dit goed om te sien dat daar nie ’n poging aangewend is om hom in ’n blik te druk nie; hy  werk nie saam met ’n liedjieskryfkomitee nie en die komponiste wie se werk hy gekies het, het almal al groot hoogtes bereik met musiek van goeie gehalte. Hierdie album gaan jou voete onder jou uit slaan en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JA ·

Die naam van Les Javan met sy pragtige liedjie “Met jou aan my sy” word nie genoem nie. Een van my gunsteling liedjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.