My hart- Nianell

Verlede jaar het Riana Nel ‘n opskudding in die musiekbedryf veroorsaak toe sy  met die algehele topverkoper-CD van die jaar vorendag gekom het.

Haar ouer suster, Nianell, het haarself egter lank tevore al in die musiekbedryf gevestig, veral toe haar komposisie Who painted the moon, deur die Neiu-Seelandse sangeres Hayley Westenra opgeneem is. Nianell het tot dusver hoofsaaklik in Engels gesing, maar op haar jongste album, My hart/My heart, het sy ook al hoe meer Afrikaanse snitte ingesluit.

Die eerste twee snitte, All that is true en Did I dance, is twee van Nianell se oorspronklike Engelse komposisies; veral laasgenoemde het trefferpotensiaal.  Die oomblik is nou was die eerste Afrikaanse treffer vanaf die album. Nianell het ook al ‘n boek geskryf , en die woorde van hierdie snit pas hierby in. Liefde begin eers in my is nog ‘n treffer, en is veral gemik op diegene wat van musiek met ‘n klassieke aanslag hou. I walk with you is ‘n baie goeie oorspronklike komposisie wat radiolugtyd verdien. Letting go is sonder twyfel een van die beste snitte op die album; dit behoort ook ‘n treffer te word. Daar is twee weergawes van Miracles op die album; hierop klink sy ‘n bietjie na Celine Dion. Die volgende twee Afrikaanse snitte verdien uiteenlopende kommentaar. Sê vir my is ‘n goeie snit wat ‘n treffer kan word, maar ongelukkig kan die volgende snit nie sterk genoeg gekritiseer word nie. Lief my is ‘n skaamtelose poging om ‘n kommersiële treffer te skryf, maar dit is seker een van die mees teleurstellende Afrikaanse liedjies van die jaar. Wanneer gaan Afrikaanse liedjieskrywers besef dat “lief” nie ‘n werkwoord kan wees nie? ‘n Mens het baie beter van ‘n kunstenaar soos Nianell verwag!

This I know is ‘n snit wat by die meer uitgelese musiekliefhebber byval sal vind; ‘n mens kan ook nie agterkom in watter taal anders as Engels sy ook op hierdie liedjie sing nie. Daar is twee bonussnitte ook ingesluit. Wense was die wenner van die Huisgenoot-liedjieskryfkompetisie in die beste liriek-kategorie. Dave Lubbe het die woorde geskryf en Nianell het dit gekomponeer.  Die tweede wergawe van Miracles is ‘n opname van haar optrede in Dubrovnik, en sy sing dit heeltemal a capella. ‘n Mens kan haar stemkwaliteit hier beter as op enige ander snit hoor.

Ten sypte van die kritiek wat ‘n mens teen hiedie album kan en moet uitspreek, sal dit beslis byval vind by diegene wat van musiek met ‘n klassieke aanslag hou. Nianell is dalk nie so gewild soos Riana nie, maar die feit dat hulle susters is, is omtrent al wat hulle gemeen het. Hul musiek is op twee verskillende markte gemik, en daarom kan hulle nie met mekaar vergelyk word nie. Nianell is ‘n uiters talentvolle kunstenaar in har eie reg wat sekerlik ‘n aantal toegewyde aanhangers het. Dit is egter sterk te betwyfel of sy enige nuwe bewonderaars met hiedie album sal bykry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.