’n Hele nuwe begin vir Reynardt Hugo

Vir bykans ʼn dekade het hy die verhoog saam met twee ander ouens gedeel as deel van die sanggroep ADAM, maar nou staan Reynardt Hugo stewig op sy eie twee voete op die verhoog as solokunstenaar.

Sy eerste enkelsnit, “Die rivier”, is pas bekend gestel en dié snit simboliseer juis sy nuwe begin.

Hugo, wat ook weeksaande op die kassie te sien is in die kykNET-hospitaalsepie Binnelanders, vertel hy het onlangs ʼn nuwe blaadjie omgeslaan en dat “Die rivier” op verskillende vlakke van sy lewe van toepassing is.

“Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ʼn slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef,” vertel Hugo.

Hy het die liedjie saam met Abel Knobel en Sean Butler geskryf. “‘Die rivier’ is ʼn titel waarmee ek al vir baie lank in my hart rondloop. Die liedjie is ook vir my baie persoonlik omdat my eie lewe en struikelblokke die inspirasie was agter die lirieke.”

Volgens Hugo is daar verskeie temas wat in die liedjie voorkom, maar is die hoofboodskap dat iemand in jou lewe jou kan help om die seerkry van die verlede agter te laat.

“Hoe die Here jou skoonwas van al jou foute en Sy genade oor jou laat spoel. Baie mense leef met seer en het hulp nodig, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulself en diegene om hulle weer te respekteer, want die lewe gaan oor meer as net seks, dwelms en rock ’n roll.”

Oor sy sololoopbaan is hy opgewonde en vertel dat hy onlangs sy eerste solovertoning gate uit geniet het.

“Dit is hoogtyd! Ek moes dit lankal gedoen het. Dit is tyd dat ek my eie stempel afdruk en dit is vir my lekker dat ek mense wat my ondersteun saam met my op die reis kan vat. Dit is ʼn fantastiese gevoel om alleen te staan. Ná nege jaar op die verhoog as deel van ʼn groep, is dit lekker om op my eie te wees en my ritme te vind.”

Die musiekvideo van dié snit word Vrydag 13 Maart vrygestel. Laai die enkelsnit hier af: https://music.apple.com/za/album/die-rivier/1500916226?i=1500916230

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Baie sterkte vir jou.
Ek glo jou getuienis gaan baie mense se lewens verander en aanraak

Agter die skerms..... ·

Wens jou net al die beste in God se naam. Ek en my mams kyk elke aand wat Tertius vanaand weer gaan aanvang in Binnelanders. Ons like jou hoor. Mag jou album net groot hoogtes bereik. Amen

Groentjie ·

Wow Wow!! Mooi so Reynardt! So mooi as sanger hulle liefde vir God wys!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.