‘n Huldeblyk aan Leonore Veenemans

Leonore-Veenemans

Leonore Veenemans. Foto: Veenemanssopranos.yolasite.com

Die Afrikaanse sopraan Leonore Veenemans sou gister haar tagtigste verjaardag gevier het, en is op hierdie dag in 1973, een dag na haar 38ste verjaardag in ‘n motorongeluk oorlede.

Hoewel Leonore in 1961 begin het om in musiekblyspele, operettes en operas op te tree, het sy eers in 1969 tot die ligte Afrikaanse musiekbedryf toegetree met twee albums, naamlik Goud en silwer en Verre lande. Op laasgenoemde album het sy saam met die Suid-Afrikaanse Lugmag se mannekoor gesing, en hierdie album het haar grootste treffer, Liefste Madelein, opgelewer. Drie verdere albums het gevolg, naamlik Al wat bly, Is die rosie, Leonore en Bly by my, wat tussen 1970 en 1972 vrygestel is. Leonore se laaste opname was dié van Stille nag, wat net op ‘n Kersalbum vrygestel is, maar later by die versameling Jare van liefde, wat op CD uitgereik is twintig jaar nadat sy oorlede is, ingesluit is. Ander treffers waarmee Leonore bekendheid verwerf het, is  Namakwalandse blomme, Lang winter, In my liefdeslied, Die woudprinses, Seeman en Dink aan my.

Leonore was in drie rolprente te sien.  In  1969 is sy gevra om Keer op keer, die temalied van Die geheim van Nantes te sing, en het ook ‘n rol in dié rolprent vertolk. In Die drie Van der Merwes, wat in 1970 uitgereik is, het sy teenoor die bekende akteur en rolprentvervaardiger Franz Marx gespeel, en die rol van ‘n nagklubsangeres vertolk.  Haar laaste rolprent was A new life, wat in 1971 vrygestel is, en waarin sy teenoor Gé Korsten gespeel het.

Op haar 38ste verjaardag het Leonore aan ‘n uitvoering van The Merry Widow in die Nico Malan-skouburg; deesdae die Artscape-teater, deelgeneem en daarna Johannesburg toe gery.  Die motorongeluk wat haar lewe geëis het, het op die nasionale pad by Prins Albert plaasgevind.

Leonore se suster Barbara het haarself ook in ligte Afrikaanse musiek, asook opera gevestig, en Barbara se dogter, Michelle, sit hierdie tradisie voort. Haar jonger broer, Bennie, was een van ons land se voorste seunsoprane, maar het hom later as ‘n mediese dokter bekwaam.

Hieronder verskyn ‘n klankgreep van een van Leonore se treffers, Heimwee na jou. Let op die moderne opnametegnieke wat hier gebruik is, wat dit laat klink asof sy meer as een stem gesing het.

http://youtu.be/T9OBvCDtLQ4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.