ʼn Meer volwasse klank vir Monique Steyn

Monique-SteynMonique Steyn word ongetwyfeld as een van ons land se top- vroulike kunstenaars beskou. Haar splinternuwe album, Mosaïek, is uiteindelik op die rakke en dit gons reeds oor al die treffers wat hierop vervat is.

Monique se debuut-album, Ek val vir jou, het in 2011 sy verskyning gemaak en goue status in verkope bereik. Sy wou egter met Mosaïek ʼn meer volwasse aanslag inneem. “Met die debuut-album is ek in ʼn dans-genre gegooi wat vir my baie deure oopgemaak het en dit was ook ʼn goeie leerskool, omdat ek moes leer skryf. Ek wou met Mosaïek eerliker wees oor wie ek is. Ek wou hê die lirieke en temas moet spruit uit my persoonlike ervarings, goed of sleg of selfs geestelik.”

Sy sê sy voel vir die eerste keer of sy regtig haar stempel op ʼn album afgedruk het. “Ek was baie bevoorreg om so betrokke te wees by die eindproduk. Ek kon sit saam met mense soos Johan Oberholzer, die Coleske-broers Arnold en Ewald, en Paulo Azevedo totdat ons almal tevrede was met die resultate,” vertel sy.

“Ek probeer soveel as moontlik om nie in die verlede te leef nie,” sê Monique. “As ek ʼn fout maak, probeer ek om daaruit te leer. Dit is ʼn mors van tyd om te tob oor hoe jy dinge anders sou doen. Ek het besluit op die titel Mosaïek, omdat ek voel ʼn mens se keuses, reg of verkeerd, maak saam ʼn groter prentjie, al is dit gebroke.”

Sy sê dit was vir haar belangrik om die album nie noodwendig ʼn geestelike album te maak nie, maar om dit met ʼn geestelike liedjie te open en af te sluit. “Dit is net my manier om dankie te sê. Al vra ek soveel vrae, weet ek daar is ʼn plan met my lewe en ʼn tyd en ʼn plek vir alles.”

Die eerste enkelsnit is getiteld ‘Die boom’ en kom uit die pen van Johan Oberholzer. “Dit is, snaaks genoeg, een van die liedjies wat heel laaste na my kant toe gekom het. Omdat die liedjie soveel persoonlike betekenis vir Johan het, het ek gevoel ek moet die liedjie ʼn spesiale plekkie gee. Die liedjie het ʼn geestelike aanslag, maar kan op verskeie maniere geïnterpreteer word.”

Die musiekvideo vir ‘Die boom’ is in die Drakensberge geskiet onder leiding van Barry Pretorius, wat elke jaar verantwoordelik is vir die samestelling van die Afrikaans is Groot-konserte. “Ek het dit nie toe geweet nie, maar dit was sy eerste poging om ʼn video te skiet,” vertel Monique. “Ons kon nie vra vir mooier, Godgegewe natuurskoon tydens die verfilming nie. Die son het net perfek deur die bome gekom en die wind het net op die regte manier gewaai. Ek is vreeslik trots op die video en ek dink dit sal mooi lêplek kry by die gehoor.”

Die album is landswyd in musiekwinkels beskikbaar, en sal ook binnekort op iTunes beskikbaar wees.

Kyk hier na die video vir ‘Die boom’.

Dié musiekvideo is uiteindelik hier. Geniet Monique Steyn se video vir haar inspirerende snit, Die Boom. Die video is in die Drakensberg verfilm en vertel vir elkeen wat dit kyk 'n ander storie van hoop en geloof. Wat vertel die snit vir jou? Die Boom is van Monique Steyn se nuwe album, Mosaïek. Kry hom nou! #Mosaïek #DieBoom Deel die video met jou vriende.

Posted by Afrikaans is Groot on Sunday, September 10, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ ·

Ongelooflikke video. Ek het die CD van dit uigereik is. Wonderlik!! Dit is ‘n moet in jou versameling. PS: Sy was die ster van Classics is groot!!!

Groot Aanhanger ·

Gan beslis die nuwe cd koop jy is voorvaar n goeie sangeres en n pragtige mens.Bly wie jy is en weet jy is spesiaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.