ʼn Musiekster om dop te hou: Dewald

Dewald in die ateljee. (Foto: Verskaf)

Die musiekgogga het die sanger Dewald eers onlangs gebyt toe hy tydens ʼn prettige karaoke-aand besef het hy is mal daaroor om op die verhoog voor mense te sing.

Só vertel die 33-jarige sanger in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ek is al van kleins af baie lief vir musiek, maar het nooit regtig die moed gehad om dit as ʼn loopbaan aan te pak nie. Daardie karaoke-aand in 2013 het egter alles vir my verander. Van daar af het ek besluit dit is wat ek wil doen.”

Hy is maar nog ʼn groentjie in die bedryf, en sing tans deeltyds. As voltydse olie-ontleder en pa van ʼn driejarige seuntjie moet hy spaarsamig met sy tyd te werk gaan. “As ek op die verhoog is, voel dit nie soos werk nie.”

Sy eerste enkelsnit, ʼn Engelse snit getiteld “In Front of Me”, is in 2015 uitgereik. Daarna het hy gevolg met “Vanaand is jy myne” in 2018, “Wonderwerk” in 2019 en vanjaar is “Een laaste kans” uitgereik.

Dewald. (Foto: Verskaf)

“Een laaste kans” se musiekvideo is op YouTube beskikbaar. “Dit is my heel eerste musiekvideo, so dit was ʼn nuwe ervaring vir my en ek was baie opgewonde daaroor. Die video beeld uit hoe ek ʼn briefie onder ʼn deur instoot in die hoop dat ek nog ʼn kans sal kry,” vertel hy.

Dewald, wat op Newcastle in Kwa-Zulu Natal gebore is en in Kriel in Mpumalanga grootgeword het, vertel sy gunstelingmusiek is Afrikaanse pop en dat hy ook graag country sing. “Daarom het ‘Een laaste kans’ ʼn country-gevoel,” sê hy.

Hy het self die liriek vir die liedjie geskryf terwyl die musiek en vervaardiging deur Johan van Zyl van Synethesia behartig is.

“Twee van die vier snitte wat ek al uitgebring het, is uit my eie pen. Ek skryf uit persoonlike ervaring of sommer net dinge wat ek om my sien,” sê hy.

Hy tree gereeld by geleenthede op en vertel hy het al konsert gehou saam met groot name in die Afrikaanse musiekbedryf soos Steve Hofmeyr, Jak de Priester en Elizma Theron. “Ek sien uit daarna om ná die staat van inperking en sodra gehore weer bymekaar mag kom, op die verhoog te wees.”

“Een laaste kans” is op die aanlyn platforms iTunes en Spotify beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Een laaste kans”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.