’n Musiekster om dop te hou: Heidi

Heidi het die nuwe jaar behoorlik afgeskop met die uitreiking van ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “ʼn Hele week”. Foto: Verskaf.

Heidi, die Vrystaatse meisie wat die Jakarandastad nou haar tuiste noem, het besluit 2020 is die jaar waarin sy opnuut die Afrikaanse musiekbedryf met haar musiek en borrelende persoonlikheid gaan oorrompel.

Sy het na hoërskool ʼn paar jaar lank administratiewe kantoorwerk in Bloemfontein gedoen, maar het toe al geweet musiek is die eintlike plek waar haar hart lê. Haar destydse kêrel wat nou haar man is, het haar in 2012 oorreed om aan Bloemfontein se Idols-oudisie deel te neem en sy het in die top-vyf geëindig. Die musiekgogga het behoorlik in 2014 gebyt toe sy in ʼn voorprogram vir Heinz Winkler opgetree het en sy het die platteland vir Gauteng verruil waar sy behoorlik aan haar sangloopbaan begin werk het.

Dit het Heidi (26) omtrent 18 maande geneem om haar eie styl en country-stem te ontwikkel. Toe sy egter eers haar eerste album opgeneem het en haar voete in die uiters kompeterende Afrikaanse musiekbedryf gevind het, het sy sommer vinnig ʼn Ghoema-benoeming vir haar debuutalbum in 2018 ingepalm.

Tog beteken ʼn benoeming en ʼn debuutalbum nie noodwendig dat ʼn sanger net op hul louere kan rus nie. Heidi het daarna van voor af begin en hard gewerk om haar droomloopbaan as sanger te bewaarheid.

Nou het sy die nuwe jaar behoorlik afgeskop met die uitreiking van ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “ʼn Hele week”.

Dié Vrystaatse meisie is reg om plaaslike verhoë, en die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers opnuut te oorrompel met haar borrelende persoonlikheid en aansteeklike melodieë.

Heidi vertel dié lied, wat die liedjieskrywer Johan Oberholzer vir haar geskryf het, is ʼn ware liefdeslied waarby sy self net soveel aanklank gevind het.

“Dit gaan oor twee mense wat daarna uitsien om elke dag van die week bymekaar te wees, en elke geleentheid wat hulle kan saam deur te bring.

“Jy sien ek en my man het self sewe en ʼn half jaar lank ʼn langafstandverhouding gehad. Ons het in dié tyd mekaar net drie dae per maand gesien, so ek weet hoe baie ʼn mens daarna kan uitsien om weer bymekaar te wees.”

Die musiekvideo van Heidi se snit “‘n Hele week” het hierdie keer ook vir die eerste keer op kykNET Nou gewys. Foto: Verskaf.

Die lirieke is op ʼn speelse manier geskryf met elke dag van die week as ʼn tema vir ʼn saam-doen-ding, wat maak dat hierdie liedjie gewild sal wees by elkeen wat weet wat die liefde aan ʼn mens kan doen.

Heidi sê haar grootste droom is om ʼn nuwe album uit te reik teen die einde van hierdie jaar. In die tussentyd gaan sy met haar musiek toer en beplan sy om harte van die verhoog af te steel soos net sy kan met haar sprankelende persoonlikheid.

Volg Heidi op Instagram en Facebook om meer uit te vind oor haar musiek en optredes gedurende die jaar.

  • Heidi het met Maroela Media gesels oor haar musiekloopbaan en planne vir 2020. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig en bly ingeskakel om na haar liedjie “ʼn Hele week” te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae