ʼn Musiekster om dop te hou: Tanja Storm

Tanja Storm. (Foto: Facebook)

Keer op keer wou sy die musiekbedryf finaal vaarwel toeroep – die padjie wat ʼn kunstenaar in dié bedryf stap, is soms met dubbeltjies besaai en die eindbestemming voel dikwels onbereikbaar.

Maar, sê die sangeres Tanja Storm, musiek is in haar bloed, en maak nie saak hoeveel keer sy haar rug daarop wou draai nie, as sy haar weer kom kry, is sy terug agter die klavier, besig om nog ʼn melodie te skryf.

“Ek het al doelbewus besluit om ʼn ander rigting in te slaan, maar dan gebeur daar net weer iets wat my terug na musiek lei,” vertel Storm. Haar jongste album, Ek is op pad, is verlede jaar uitgereik.

Sy het haar debuutalbum, Tanja, in 2009 uitgereik en sê sy het in die dekade wat sedertdien verloop het  baie verander en gegroei as mens.

“Jy kan dit in die musiek ook hoor. Ek het onlangs weer na ʼn ou snit in my eerste album geluister, en my nuwe musiek het beslis ʼn meer volwasse klank. Dit is nie meer so ʼn pop-klank soos op die eerste album nie,” sê die musikant.

“Klawerbord is my eerste instrument, en dan speel ek ook so ʼn bietjie kitaar, baskitaar, viool en mondfluitjie. Ek hou ook daarvan om dié instrumente op die verhoog af te wissel.”

Storm verklap dat sy die album binne ongeveer ʼn week klaar geskryf het. “Ek het met ʼn boek vol halwe liedjies onder die bed gesit, en ek het daardie liedjies geskaaf totdat dit volwaardige liedjies vir die album was. Ek het myself verras!”

Die titelsnit, “Ek is op pad”, is binne ʼn paar uur klaar geskryf nadat sy die idee vir die liedjie op ʼn vlug gekry het. “Die boodskap van die liedjie is dat dit oukei is om jouself soms eerste te plaas.”

Die album bevat 10 snitte en wissel in klanke, van ʼn Kaapse kwêla-ritme op die snit “Mosselbaai” – ʼn ode aan Storm se tuisdorp – tot jazz en blues-klanke. “Ek het ʼn trompetspeler gekry om te kom speel op die album. Dit is regtig net ʼn styl van musiek wat nie getakseer kan word nie.”

Haar nuwe rock-klank is geïnspireer deur musiekteaterproduksies soos Rockolution: The Evolution of Rock, The Eva Cassidy Story en Join the Joyride: A Tribute to Roxette waarin sy gereeld verskyn.

Hoewel sy dit nie altyd so beplan nie, skryf sy meestal wanneer sy haar op ʼn stil plek bevind. “Ek skryf glad nie op ʼn rekenaar nie. Ek is van die ou skool wat nog met ʼn pen in ʼn boek skryf. Soms skryf ek binne ʼn paar uur ʼn liedjie klaar en soms vat ʼn liedjie jare om te voltooi.”

Sy voeg by hoe verskillende instrumente verskillende perspektiewe aan liedjies gee tydens haar skryfproses. “Die instrument sê vir jou wat hy wil doen. Ek weet nie voor ek by die klavier gaan sit waaroor ek gaan skryf nie. Dit gebeur organies.”

Net soos talle ander kunstenaars is Storm se optredes vir die afsienbare toekoms ook gekanselleer weens die voorsorgmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp, maar sy gaan haar nie laat onderkry nie. Sy is stérk op pad en dié keer gaan niks haar keer nie.

Ek is op pad kan op Storm se webwerf bestel word of andersins op digitale platforms soos iTunes en Spotify afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.