Kompetisie & resensie: ’n Nuwe dekade van treffers – verskeie kunstenaars

n-Nuwe-dekade-van-treffers

‘n Nuwe dekade van treffers. Foto: Verskaf.

Hierdie kompetisie is gesluit: WEN! Vyf Maroela Media lesers kan elk ʼn Nuwe dekade van treffers-CD wen. Stuur vir ons ʼn e-pos na [email protected] en sê watter twee sangers se liedjies op dié album verskyn. Gebruik “DEKADE” in die onderwerpsveld van die e-pos en onthou om ook jou naam en posadres in te sluit! Die kompetisie sluit Dinsdag 21 Julie om 12:00 en wenners sal per e-pos gekontak word.

Die afgelope paar jaar het Afrikaanse  versamelreekse , onder meer Afrikaans is groot, Treffer na treffer en  Trots Afrikaans baie gewild geword.

Nou is daar ’n splinternuwe dubbele Afrikaanse versameling, ’n Nuwe dekade van treffers, vrygestel, en die vraag is of hierdie album die gewildheid van soortgelyke versamelings kan ewenaar, of daarop verbeter.

Die eerste snit op die eerste CD is Steve Hofmeyr se mees onlangse treffer, “Sit die ligte aan”. Juanita du Plessis is seker ons land se gewildste sangeres, en op “Kaalvoetkind” sing twee van haar kinders, Ruan en Franja, saam met haar. Hulle twee gaan binnekort ook met hul eie solo-albums tot die musiekbedryf toetree, en dit is duidelik dat hulle hul ma se talent geërf het.

Elvis Blue se jongste album is onlangs vrygestel, maar sy bydrae tot hierdie versameling is “Toe ons jonk was”, een van vier treffers wat sy eerste Afrikaanse album opgelewer het. “Is duidelik” was ’n groot treffer vir Emo Adams, en tot dusver was dit moeilik om hierdie snit in die hande te kry. Hoeplik stel Emo binnekort weer ’n album vry. “Smoorverlief” was een van die treffers wat Adam se album Goud opgelewer het. Die eerste snit op die album wat nie Afrikaans is nie, is Blackbyrd se “You’re the reason why”. Hulle het vinnig een van Suid-Afrika se gewildste, en beste, groepe geword.

“Onbeskryflik” van Kurt Darren is een van die ouer snitte op die album; hy het dit saam met Johan Oberholzer en Neil Schoombee geskryf en dit vir sy vrou op hul troudag gesing. Nianell het haar as een van ons land se voorste kunstenaars gevestig sedert haar komposisie “Who painted the moon” ’n internasionale treffer geword het. Haar bydrae tot hierdie album is “Got to give myself”; hier kom ’n mens agter dat sy eerder Engels as Afrikaans moet sing. Andriëtte se nuwe album word binnekort vrygestel, maar intussen is een van haar vorige treffers, “Dinge”, hier ingesluit.

Adam Tas se bydrae tot dié versameling is “Liefde maak op ’n country song”. (’n Mens  kan nie “liefde maak” nie; daar moet ’n ander manier wees om die uitdrukking “making love” te vertaal!) Gerhard Steyn se gewildheid het effe afgeneem ná sy groot treffer, “Baby tjoklits”; een van sy meer onlangse treffers, “Hart se kampioen”, is hier ingesluit. Nadine se jongste album, Skildery, is dalk haar beste een nog, en “Hout op die vure” kan een van die treffers van dié album word.

Een van die beste snitte op die album is die egpaar Roux en Christi Cloete se komposisie “Alles naby my”. Dit is reeds besig om ’n treffer te word, en dis maklik om te verstaan hoekom. Nog ’n relatief nuwe snit is “Slot en grendel” van Valkenburg, wat onder die eerste 26 tydens die afgelope Afri-Visie-kompetisie gekom het. Gee my nog ’n kans van Chris Else is nog ’n nuwe snit; dit het die potensiaal om baie gewild te word.

Die Groot FM-omroeper Riaan Grobler het met Rinel Day saamgespan op “Mi amore”, wat glo ook op Riaan se volgende album sal voorkom. Watershed het ’n spul treffers gehad, en “Letters” was dalk een van die groep se grootstes. ’n Mens weet egter nie of hulle weer bymekaar gaan kom nie, aangesien hul hoofsanger, Craig Hinds, onlangs ’n soloalbum vrygestel het. Jimmy Nevis is ’n relatiewe nuweling op die musiektonel; “Heartboxing” is een van sy eerste treffers.

Twee van ons land se voorste rock-groepe sorg vir die eerste twee snitte op die tweede CD. Prime Circle is al geruime tyd op die toneel, en hul bydrae tot dié versameling is “Doors”. Monark se debuutalbum het verlede jaar verskyn; “Build me up” was die erste treffer wat dit opgelewer het.  Nog ’n jong kunstenaar wat opgang gemaak het, is Joshua Na Die Reën; “Lig op die horison” was seker sy grootste treffer tot dusver. ’n Baie interessante snit is “Pampoen”, waarop die rymkletser Hemelbesem saam met Steve gehoor kan word. Dis goed dat dit eindelik op CD beskikbaar is, maar nie almal sal noodwendig daarvan hou nie.

“Iemand as jou hart breek” was ’n treffer vir Willem Botha, maar nugter weet wanner sy nuwe album vrygestel word. Connell Cruise is ’n uiters talentvolle kunstenaar, maar “Not just friends” is dalk ’n bietjie tranerig, en ’n mens sal dalk eerder ’n snit soos “Forever” op hierdie versameling wou sien. “Don’t let me go” was een van Gangs of Ballet se eerste treffers; ’n mens weet egter nog nie wanneer die groep se debuutalbum vrygestel word nie. “Wie is jy” van Lee Scott was een van die Top 10 van die Afri-Visie-kompetisie, en dit kan ’n groot treffer word. Lloyd Cele het bekendheid verwerf vir treffers soos “Make it easy” en “My air”, maar hy verras met sy Afrikaanse snit, “Dans met my”. Hy het selfs hand bygesit met die lirieke, en daarom verdien hy groot respek.

“In die hemel is ’n engel weg” is ’n Europese melodie met Afrikaanse woorde, en dis Manie Jackson se bydrae tot dié versameling. Ricus Nel was jare lank hoofsaaklik bekend as ateljeemusikant omdat hy verskeie instrumente kan bespeel (daar word gesê dat dit dalk selfs 13 is), maar met “Sak en pak” het hy sy debuut as sanger gemaak. Bouwer Bosch is hoofsaaklik bekend as die hoofsanger van Straatligkinders, maar “Oorgeloop” is een van sy solotreffers. The Parlotones is een van min Suid-Afrikaanse groepe wat oorsee sukses behaal het, en “Push me to the floor” was een van hul grootste treffers tot dusver.

Michael Lowman is ’n relatiewe nuweling  op die musiektoneel, maar “Girl saves boy” was een van sy groot treffers. Burgerd Botha was voorheen lid van Romanz, maar hy en Zita Pretorius, wat een album saam met Rudi Claase opgeneem het, is intussen getroud, en hulle het “Jy is my rede” saam opgeneem. “Liefde wen” van Marzanne is ’n baie goeie nuwe snit wat ’n groot treffer gaan word.  Hopelik sal ons gou weer van haar hoor! Amor Vittone was ’n paar jaar lank stil, maar met “Sprei my vlerke” maak sy haar terugkeer tot die musiektoneel. Die laaste snit op die tweede CD is “Sing in die reën”, wat Rudi Claase geskryf het en saam met Charné Hugo sing.

Dis maklik om te sê dat alle versamelalbums dieselfde is en dat daar liedjies is wat maar altyd ingesluit word. Dit kan egter nie van hierdie versameling gesê word nie, want daar is ’n hele aantal gesogte snitte wat ’n mens nêrens anders kan kry nie, maar tog hierop beskikbaar is. Daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.