‘n Nuwe môre- Louis Loock

Dit is seker nou al omtrent vyf jaar sedert Romanz gestig is, en sedertdien het hulle groot sukses met hul vermenging van klassieke- en kommersiële musiek behaal.

Een van die stigterslede van die groep, Louis Loock, het egter weens omstandighede besluit om die groep te verlaat en ‘n sololoopbaan te volg. Sy eerste solo-album, ‘n Nuwe môre, is pas vrygstel.

Die titelsnit is ‘n komposisie van Sean Butler en Neil Schoombee, wat by die meer uitgelese musiekliefhebber byval sal vind.  Daar is heelwat Europese melodieë op die album waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is, en Liefling bly vanaand is een van dié wat miskien ‘n treffer kan wees. Die eerste treffer was Vlieg saam met my op vlerke van die wind (die titel is onnodig lank), nog ‘n Europese melodie met Afrikaanse lirieke. Neil Schoombee en Sean Butler het die volgende snit, Ek wil jou soen, geskryf, en weer eens sal dit byval vind by enigiemand wat van hierdie tipe musiek hou. Sedert Gé Korsten se dood in 1999 het verskeie kunstenaars al van sy groot treffers opgeneem. Louis het besluit om Hier is ‘n mens in te sluit. Soos Gé het Louis ‘n sterk tenoorstem, en dié liedjie pas baie goed by hom. Dit is egter onwaarskynlik dat sy weergawe ‘n treffer sal wees, omdat daar soveel oosrpronklike liedjies met trefferpotensiaal op die album is.

Die volgende snit, Dis hemel op aarde vir jou en my, het al radiolugtyd gekry, en verdien beslis om ‘n treffer te word. Dit is sonder twyfel een van die beste snitte op die album. Louis het egter nie net snitte met ‘n effens klassieke klank ingesluit nie; ‘n verrassing op die album is sy opname van Bon Jovi se groot treffer Bon Jovi. Op Solo con te kom sy “klassieke kant” egter weer na vore.  Meisiekind is die Afrikaanse vertaling van Nino de Angelo se groot treffer Samuraj. Die woorde is baie minder sentimenteel as dié van die oorspronklike liedjie, maar ‘n mens wonder of dit nodig was om Afrikaanse woorde daarvoor te skryf. Aan die ander kant is Sing ‘n uitstekende oorspronklike komposisie van Neil Schoombee, Sean Butler en Don Kelly (laasgenoemde is niemand minder as Ernst Kleinhans van Select Musiek nie).  Dit is my gunstelingsnit op die album, en moet eenvoudig ‘n groot treffer word.

Die Australiese sanger Daniel Bedingfield het al ‘n hele paar groot treffers gehad, en Louis sing ‘n Afrikaanse vertaling van If you’re not the one, met die titel As jy in my skoene staan. Weer eens moet ‘n mens wonder hoekom dit nodig was; hy kon mos net die oorspronklike een opgeneem het. Joe Foster van die groep Adam het Sal jy by my staan saam met Nei; Schoombee geskryf.  Louis onderksei hom egter ook as liedjieskrywer op die album; hy het Laat liefde ons dra saam met Nianell geskryf. Dit is ‘n baie mooi snit wat dalk ‘n radiotreffer kan word. Louis het ook die woorde van die laaste snit op die album, Ek skuld jou, geskryf. Dit is weer eens ‘n bekende melodie, maar dit is mooi, en hoewel dit dalk nie ‘n moontlike treffer is nie, sal diegene wat musiek met iets om die lyf verkies, daarvan hou.

Daar is geen twyfel dat Louis werklik kan sing nie; sy vokale reikwydte strek oor drie oktawe, en dit alleen onderskei hom van die hordes wat dink hulle kan met ‘n kitaar of begeleidingsnitte op die verhoog spring en dan niks anders doen as om musiekliefhebbers te irriteer nie. Dis jammer dat daar soveel bestaande melodieë met Afrikaanse lirieke op die album verskyn, maar as dit nie ‘n probleem is nie, sal jy hierdie album geniet as jy op soek is na musiek wat nie net op die kommersiële mark gemik is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.