‘n Plekkie in jou hart- Silwer en Goud

'n Plekkie in jou hartVerlede jaar het kykNet die talentkompetisie Ons soek die sanger aangebied, maar dit is nie net Pierre Rossouw, die wenner van die kompetisie, wat sedertdien sy merk op die Afrikaanse musiektoneel gemaak het nie.

Twee van die deelnemers van dié kompetisie, Jacobus Silwer en Julius van der Walt, het saamgespan en die sangpaar Silwer en Goud gevorm. Hul eerste album, ‘n Plekkie in jou hart, is vroeër vanjaar vrygestel. Die eerste snit vanaf die album, Gebreekte glas, was ‘n radiotreffer voordat die album vrygestel is, en dit het ‘n mens laat uitsien na die res van die album. Die tweede snit, Sien jy nie kans nie, is die nuwe treffer, en dit is ‘n pragtige snit wat verdien om baie gewild te word. Dit klink asof daar meer as net hulle twee stemme is wat die refrein sing, en dit maak hierdie snit net nog meer besonders. Dit is geskryf deur Neil Schoombee en niemand minder as Lionel Bastos nie. Jacobus en Julius wys op die volgende snit, Dit val my by, dat hulle ook goeie liedjieskrywers is. Die titelsnit is ‘n pragtige komposisie van Christiaan Kritzinger, wat homself al gevestig het as ‘n veelsydige en talentvolle sanger en liedjieskrywer. Marc Brendon en Don Kelly het Ek is mal oor die wolke en die reën saam met Sean Butler en Neil Schoombee geskryf; hier klink hulle ‘n bietjie soos Groep Twee. Daar is ‘n paar bekende snitte op die album, en die eerste hiervan is ‘n groot verrassing. Hulle het Sonja Herholdt se eerste treffer Ek verlang na jou ingesluit en hul opname is iets heeltemal anders as waaraan ‘n mens gewoond is. Sewe maal sewe is ‘n baie goeie oorspronklike komposisie deur Emil Struwig, en dit kan een van die treffers vanaf die album word.

Nog ‘n bekende snit is Sias Reinecke se groot treffer Sproetjies. Dis goed dat hulle die woord “traantjies” met “trane” vervang het; dit klink sommer baie beter. Die mondfluitjie in Die hoek waaraan ek hang klink fantasties en die woorde kan seker nie te ernstig opgeneem word nie. Jacobus het dit geskryf, en ‘n mens wonder of hy nie dalk ‘n hengelaar is, te oordeel aan die woorde, nie. Do you wanna make love was in 1977 ‘n nr. 1-treffer vir Peter Mc Cann, en Silwer en Goud se weergawe van hiedie liedjie is baie goed. Ek tel al die woorde is ‘n pragtige snit wat Jacobus en Julius saam met Marc Brendon, Don Kelly, Sean Butler en Neil Schoombee geskryf het. Parap parap (sterker en sterker) is ‘n komposisie van onder meer Lionel Bastos, waarvoor Neil Schoombee die Afrikaanse woorde geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit op die album is Ek wil wakker word langs jou. Die kitaarwerk op hiedie komposisie van Lionel Bastos, Don Kelly en Michael Lindt is uitstekend, en dis jammer dat dit half “weggesteek” is teen die einde van die album. Die laaste snit is ‘n baie goeie country-weergawe van BZN se treffer Wheels on fire; dit is trouens beter as die oorspronklike een.

Daar was die laaste tyd heelwat sangpare wat ‘n indruk op die plaaslike musiekbedryf probeer maak het; James en André en Juba is maar twee daarvan. Hoewel albei van hulle met baie goeie albums vorendag gekom het, is Silwer en Goud se album seker die grootste verrassing tot dusver. Hulle kan feitlik enige musiekstyl baasraak en dit is goed om te sien dat hulle nuwe en bekende liedjies ewe goed kan sing. Hopelik sal hulle dit nog baie ver bring!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.