Ná 65 jaar is liedjie uiteindelik nommer 1

Skermgreep uit die video

Brenda Lee het “Rockin’ Around the Christmas Tree” al in 1958 vrygestel, maar dié klassieke liedjie het nooit die nommer een-plek op trefferlyste behaal nie – tot nou toe.

Die liedjie het die afgelope vier Kersseisoene die tweede posisie beklee op Billboard se Hot 100-lys, maar het vandeesweek vir die eerste keer in die eerste plek opgeskuif.

Lee was net 13 jaar oud toe sy die liedjie opgeneem het.

Volgens Good Morning America was sy baie emosioneel toe sy die nuus gehoor het.

Dit is slegs die derde keer dat ʼn liedjie oor Kersfees die eerste plek op die Hot 100-trefferlys haal, naas Mariah Carey se “All I Want for Christmas is You” en die Chipmunks se “The Chipmunk Song” met David Seville.

Lee se liedjie het ʼn rits rekords verbeter deur in die eerste posisie in te skuif, berig CBS News. Dit is die langste wat dit vir ʼn enkelsnit geneem het om die eerste plek te haal, en het die langste tyd geneem om die leer van die trefferlys uit te klim (dit het vir die eerste keer in 1960 die Hot 100 gehaal). Lee is ook die oudste persoon om in die nommer een-plek te verskyn en sy is nou ook die rekordhouer vir die langste tydperk tussen twee toptreffers (dit is 63 jaar ná haar treffer “I Want to Be Wanted” die nommer een-treffer was).

NPR verduidelik dat veranderinge aan Billboard se berekeningsformule dit makliker gemaak het vir ouer liedjies om die nommer een-posisie te haal, aangesien stromingsdienste nou ʼn groter impak het op die liedjie se gewildheid. Dit is ʼn verskynsel wat veral tydens die vakansieseisoen ʼn rol speel wanneer mense na ouer musiek luister.

Mariah Carey se klassieke liedjie het ná die verandering vier jaar agtereenvolgend die eerste posisie beklee.

Lee het gehelp om Mariah se liedjie (tans in die tweede plek) te onttroon toe sy ʼn nuwe musiekvideo opgeneem het – die liedjie se eerste amptelike musiekvideo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Absoluut mal daaroor – sal nooit moeg word om daarna te luister nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.