Na die land

Hennie Swanepoel

Hennie Swanepoel is lief vir die Here en vir mense. Dit is sy passie dat mense ‘n dieper belewenis van God sal hê. Sy gebed is dat sy hele bediening daartoe sal bydra dat mense regoor ons land en selfs buite die grense van ons land, God op ‘n unieke wyse sal ervaar en Hom sal verheerlik. Dit is ook die doel met sy nuwe CD “Na die Land”.

“Na die Land” is by Helmut Meyer Studio’s in Stellenbosch opgeneem. Die konneksie tussen Hennie en Helmut was Goddelik geïnspireer en van die begin af het Helmut Hennie se visie met die CD gedeel. Hieruit het dit voort gevloei dat hulle twee van die liedjies op die CD saam sing. Verder verleen die stemme en Jesus gesindheid van Annalise Wiid en Michelle Solé ook diepte aan die CD. Die titel snit van Hennie se CD “Anderkant”, wat by Maranatha opgeneem is, is ook op die nuwe CD. “Anderkant” was ‘n ATKV Lier finalis. ‘n Bonus snit, “Above All”, is deur Hennie se seun Naudé by Montana Studio in Pretoria opgeneem. Dit is wonderlik dat pa en seun hulle talente kon saamsnoer.

Hennie is ‘n predikant. Hy was vir ‘n aantal jare dominee in Vanderbilpark- Suid en is sedert 2005 een van drie leraars in Melkbosstrand. Van tyd tot tyd vat hy sy kitaar preekstoel toe om sy liedjies met mense te deel. Hy het van kleins af ‘n passie gehad om te sing. Hy het sy eerste kitaar op ‘n ouderdom van nege jaar gekry en dit sommer vinnig bemeester. Hennie en sy vrou Amanda begelei toergroepe na Israel en dit is hier waar heelwat van sy liedjies gebore is. Van sy ander liedjies het tydens sy voorbereiding vir preke, sowel as in krisistye in sy lewe die lig gesien.

Hy het aan die Klerksdorpse Hoërskool gematrikuleer en het daarna aan die PU vir CHO in Potchefstroom studeer. Hennie het homself in Pretoria as predikant bekwaam en het ook ‘n PhD in Narratiewe terapie. Hiermee poog hy om mense te begelei om voller en meer sinvolle lewensverhale te lewe.

Hy en Amanda het ‘n bederf huwelik en is ‘n gedugte span. Hulle lewensleuse is om gereeld dinge te doen wat hulle nog nooit van tevore gedoen het nie. Sy bied landswyd programme in persoonlikheidsontwikkeling en ander tema’s aan. Soms vergesel hy haar en tree dan ook by sulke geleenthede op. Hennie het drie kinders, Naudê, Chrislea en Henro.

Dit is vir Hennie ‘n voorreg om sy bediening interkerklik uit te leef.

Speellys

  1. Lewenswater
  2. Give me Jesus
  3. In die bokamer
  4. Na die land
  5. I am
  6. Genade
  7. Herlewing
  8. My peace I give unto you
  9. Sondebelydenis
  10. We fall down
  11. Anderkant
  12. Above all

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.