Nadia Vorster se enkelsnit: ‘Charging Bull’-beeld in New York inspireer haar

Die Charging Bull is ʼn bekende bronsbeeld wat op Broadway, net noord van Bowling Green, in Manhattan, New York, staan. Dié beeld van ʼn bul, ʼn simbool van finansiële optimisme en welvaart wat sowat 3 200 kg weeg en elke dag duisende toeriste lok, is die inspirasie vir die sangeres Nadia Vorster se enkelsnit “Veg of vlug”.

Die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Woensdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Die mensdom lyk ook soos die bul: Altyd gereed om te storm en geld na te jaag,” vertel Vorster oor die konsep vir die liedjie. Sy het laat nagte wakker geword en die lirieke neergepen terwyl haar man met ʼn sakereis was.

“Ek het nostalgies teruggedink aan ʼn tyd toe ons niks gehad het nie. Wel, ons het mekaar gehad, dinge was eenvoudiger en my man se sakereise het my nie alleen gelaat nie,” sê sy.

“Die boodskap van ‘Veg of vlug’ kom uit my hart uit. Ek glo dat dit nie deel van God se plan is dat ons as gesinne so verby mekaar jaag en verdruk moet word deur finansiële laste nie.”

“Veg of vlug” is die eerste liedjie waarvan Vorster die lirieke self geskryf het en met die splinternuwe enkelsnit en musiekvideo glo sy dat luisteraars hulself ook sal vereenselwig met die alewige gejaag in ons lewens waaroor sy sing.

Nadia Vorster.

“Natuurlik moet ons hard werk om ons inkomste te verdien en as huweliksmaats moet ons mekaar bystaan en aanvul, maar ons moet altyd seker maak daar is ʼn gesonde balans en dít is die boodskap wat ek met dié liedjie wil oordra,” voeg sy by.

In die musiekvideo, wat deur AVC Studios by L’Aquila Country Estate geskiet is, kan die wipplank van emosies op Vorster se gesig gesien word terwyl sy die boodskap deel.

Haar eerste album, Sin Maak, is in 2018 uitgereik en sy is tans hard aan die werk aan haar tweede album waarvan die eerste enkelsnit, “Geanker in hoop”, verlede jaar vrygestel is. “Veg of vlug” is die tweede enkelsnit op dié nuwe album wat binnekort beskikbaar sal wees.

Aanhangers kan ook uitsien na ʼn duet tussen Vorster en haar 11-jarige dogter Alba wat binnekort uitgereik sal word.

“Daar is ʼn verskil tussen harde werk en die wanbalans van ʼn valse verantwoordelikheid en ʼn mens moet leer om tussen die twee te kan onderskei. Dan kan jy besluit of jy moet veg of vlug,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.