Nadine ‘blom’ as omroeper, motiveringspreker

Nadine Blom. (Foto: Brenda Veldtman/Nadine Blom/Facebook)

“Met my gaan daar altyd ʼn tikkie eerlikheid wees, al is dit soms verrassend hoe eerlik ek kán raak.”

Só gesels die sangeres, motiveringspreker en nou ook radio-omroeper, Nadine Blom, oor haar geselsprogram wat elke weeksdag op Bok Radio uitgesaai word.

In dié program gesels sy oor alles en nog wat, solank eerlikheid net deel van die resep is.

“Om ʼn omroeper te wees is nou nie ʼn loopbaankeuse wat ek noodwendig nagejaag het nie,” het dié 47-jarige rooikop aan Maroela Media vertel.

“Tog is dit beslis iets wat deur die jare vir my aanloklik begin klink het. Dit pas eintlik so goed in by my wêreld van motiveringspraatjies en verhoë.”

Nadine geniet dit veral om die stukkies lewensraad en -ervaring wat sy al opgedoen het, met luisteraars te deel. Wanneer hulle heerlik saam met haar begin gesels, of selfs van haar verskil, geniet sy dit nóg meer.

“Ek het agtergekom dat mense honger is vir sielskos.

“Dalk nie te veel op een slag nie, maar klein saadjies van hoop.”

Sy gesels in dié program oor leefstyl- en vermaakgebeurtenisse, sosiale media, wyses om meer omgewingsbewus te leef en hoe om veilig in ʼn kuberwêreld te bly.

Nadine in die ateljee. (Foto: Nadine Blom/Facebook)

Nadine is ʼn prokureur, hoewel sy nie praktiseer nie. Daar kom kuier elke nou en dan ʼn ander prokureur in die ateljee vir ʼn segment oor regsadvies, maar Nadine geniet dit om ook haar eie regskennis met luisteraars te deel.

Sy beskryf haar pad met regte as “een van twee passies,” aangesien haar liefde vir musiek ʼn beduidende invloed in haar lewe het.

Nadine sien daarna uit om later vanjaar ʼn splinternuwe liedjie uit te reik. Dié liedjie sal die eerste een in ʼn hele paar jaar wees. Sy het die liedjie saam met Hunter Kennedy en Janie Bay geskryf.

“Dit is ʼn Afrikaanse liedjie wat ʼn mens aan klanke uit die 80’s herinner, met ʼn stukkie Taylor Swift wat ook daarin versteek is.”

Ná skool het sy regte gaan studeer, en het selfs ʼn paar jaar as prokureur gepraktiseer voordat haar liefde vir musiek eindelik oorgeneem het. Talle mense sal haar herken as die borrelende rooikop-sangeres wat Christelike kinderliedjies sing.

Dié liedjies sing sy steeds wanneer sy die land plat reis om haar inligtingsessies na skole toe te bring.

Toe Nadine destyds besluit het om haar meestersgraad te kry, wou sy dit in ʼn rigting kry wat die veiligheid van mense sou bevorder. Sy het reeds op universiteit belangstelling in menseregte, veral kinderregte, getoon en het dus op dié rigting vir haar nagraadse studies besluit.

“Ek het my fokus op internasionale menseregte, veral mensehandel en aanlynveiligheid, geskoei,” vertel sy.

Sy het later ook opleiding by die Verenigde Nasies (VN) in dié rigting ontvang en ook vir ʼn wyle gedoseer.

Hierdie vragvol regskennis gebruik sy vandag wanneer sy by skole gaan kuier. In die inligtingsessies waarmee sy na dié skole gaan, poog sy om kinders in aanlynveiligheid op te voed.

Voordat sy haar praatjie afskop, voer sy eers ʼn paar liedjies vanuit haar album, Supercool, op. Musiek is dikwels die stuk gereedskap om die kinders rustig en ontspanne vir die daaropvolgende inligtingsessie te maak, vertel Nadine.

“Ons spring, sing en dans – dan gesels ons wanneer almal ontspanne is. Die oomblik wat jy ontspan, kan jy leer.”

Nadine besoek kleuter-, laer- en hoërskole met haar geselssessies. Sy het unieke temas en gesprekspunte gepas vir elke ouderdom.

“Dit klink vreemd dat ek na kleuterskole toe gaan oor aanlynveiligheid, maar daar is van die skole waar kinders reeds tablette op die ouderdom van twee of drie kry.”

Die gesprekspunte raak ernstiger hoe ouer die kinders is, vertel sy, en met hoërskoolleerders gesels sy oor dinge soos pornografie en die gevare daarvan.

(Foto: Nadine Blom/Facebook)

Kinders onttrek hulself dikwels van hul ouers wanneer hulle deur ’n moeilike tyd gaan, maar sy benadruk egter dat die internet nié menslike nabyheid kan vervang nie.

“Die gemiddelde ouderdom wat kinders vandag vir die eerste keer aan pornografie blootgestel word is tussen 9 en 11. En dan is dit nie eers altyd die kind se skuld nie – algoritmes werk dikwels op so ’n wyse dat dit self opduik.”

Nadine berei kinders ook daarop voor dat daar mense daar buite is wat nie bloot net vertrou moet word nie. Dit is ook nie altyd net vreemdelinge nie, maar mense wat soms op een of ander wyse aan die kind bekend is.

Sy verduidelik ook hoe dit lyk wanneer dié mense na kinders uitreik en ʼn lokval stel. Dit mag dalk met blote gesprekke oor jou hond, gunstelingmusiekgroep of enigiets bekend op jou sosialemediaprofiel wees.

Dié boodskappe mag dalk nie skadelik voorkom nie, maar dit sluit bloot net die gesprek en gepaardgaande gevare oop.

Die gesprekke lei dikwels daartoe dat dié buitepersoon persoonlike inligting oor die kind se skool, huisomstandighede en kontakbesonderhede kry. In sommige gevalle lei dit ook tot kinders wat onwelvoeglike foto’s van hulself deel weens dreigemente of uitlokking.

Nadine moedig ouers aan om eerlike gesprekke met hul kinders te voer om uit te vind of daar al enigiets soortgelyks oor die kind se pad gekom het.

“Jy gaan dalk skrik, maar jy as ouer moet kalm bly. Anders gaan die kind toeslaan en dan niks verder vir jou vertel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Sterkte Nadine, ek hoop dat jy jouself sal kan uitleef, en baie mense posetief kan aanraak in die omgewing waarin jy jouself nou bevind.

anko ·

Pragtige nederige vrou met goeie kennis en dan sing sy nog mooi ook. Dis soos ek haar ken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.