Nagligte maak opslae as rockgroep in Suid-Afrika

Nagligte

Die drie lede van Nagligte is Jacobus Brink, Wynand Jonker en Daniël Brink. Foto: Verskaf.

Stel jou voor: Die wekker lui jou wakker. Deur skrefiesoë kyk jy vinnig na jou horlosie. Die hane kraai nog nie en al wat wakker is, is ʼn paar studente êrens in ʼn kuierplek. In die kas hang ʼn netjiese knoophemp – glad gestryk, jy moet daagliks ʼn indruk maak. Die dag lê voor jou soos die spreekwoordelike albatros om jou nek. Hiervoor het jy nie lus nie, nie nóg ʼn sinnelose dag in ʼn beroep waar jy ongelukkig is en daagliks net opstaan, werk toe gaan en saans terug in die katel klim nie.

Die lewe het tog ʼn groter doel en as jy een van die voormalige Stellenbosch se boys in die opkomende Afrikaanse rock-band, Nagligte, is, moet jy êrens in jou lewe besluit om gelukkig te wees en ontsnap van ’n “sieldodende bestaan”. Só sê Jacobus Brink, oftewel Roof, wat sy beroep as beleggingsanalis agtergelaat het om voltyds sanger vir die groep Nagligte te wees.

Hy word ondersteun deur twee lede, Daniel Brink, oftewel Eddie, wat ook sy beroep as NAV-spesialis agtergelaat het om dromme te speel en Wynand Jonker, ʼn voormalige advokaat, wat kitaar speel.

Dié trio het blitsvinnig roem verwerf ná hulle in September vanjaar hul eerste enkelsnit en lirieke video, “Dit stop nou”, bekendstel het. Dié snit en video het hulle onder die aandag van die mees gesogte platemaatskappye gebring, maar hulle het onlangs ʼn kontrak met Universal Music Suid-Afrika geteken. Die beroemheid het gevolg ná die groep reeds in 2000 ʼn groep wou begin toe Roof en Wynand mekaar op universiteit ontmoet het. Hoewel hulle skepties was oor hul musikale vernuf, het hulle vandag groot planne vir die toekoms.

Kevin Grenfell, hoof van Universisal Music SA, het gesê Nagligte is ʼn voorbeeld van ʼn goeie en grensverskuiwende band en dat daar gerus vir dié groep uitgekyk moet word.

Aanhangers en rock-liefhebbers kan uitsien na die groep se debuutalbum in November vanjaar. Die amptelike bekendstelling van die album sal by Weiveld plaasvind. Die album is vervaardig in samewerking met bekende name soos Francois de Klerk van Blakk Productions en Jürgen von Wechmar van Sunset Recording Studios in Stellenbosch.

“Ons beskou dit as ‘n groot eer en voorreg om saam met Universal Music Suid-Afrika te werk. Ons is opgewonde om al van vroeg af die pad met hulle te stap en baat te vind by hul ervaring, eindlose hulpbronne en entoesiasme vir Afrikaanse rockmusiek. Daar is groot planne vir Nagligte en ons sien daarna uit om saam suksesvol te wees en Afrikaans te laat rock,” het Roof gesê.

Die omslag van die album ‘Hoop in die donker’ Foto: Verskaf.

Die omslag van die album ‘Hoop in die donker’ Foto: Verskaf.

Hierdie kompetisie is gesluit: Maroela Media het vyf dubbelkaartjies om weg te gee vir die CD-bekendstelling van Nagligte. Lesers wat graag die bekendstelling wil bywoon op Woensdag 25 November om 20:00 by Weiveld in Zwavelpoort by die Bronberg-landgoed, Pretoria kan net die vraag beantwoord: Wat is die titel van Nagligte se album?

Stuur vir ons jou antwoord in ʼn e-pos met jou naam, van en telefoonnommer na [email protected]. Onthou om die woord Nagligte in die onderwerpveld te sit. Die kompetisie sluit Maandag 23 November om 12:00 en wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Wenners is self verantwoordelik vir hulle reis- en verblyfkostes om die geleentheid by te woon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.