Nagligte stel eerste enkelsnit bekend

Nagligte

Nagligte. Foto: Verskaf.

Soms gebeur dit dat ʼn paar mense besluit om ʼn groep te stig, maar dat dit lank duur voordat hulle hul eerste enkelsnit uitreik.

Nagligte het eintlik al in 2000 ontstaan toe die hoofsanger en kitaarspeler Jacobus (Roof) Brink en die kitaarspeler Wynand Jonker mekaar op universiteit ontmoet het. Albei was aanvanklik skepties oor die ander se musiekvernuf, maar nadat hulle saam begin optree het, het hulle besluit om ʼn groep te stig. Meer as ʼn dekade lank het hulle hul droom opsygeskuif, maar aan die begin van 2014 het die droom eindelik momentum begin kry toe hulle liedjies saam met die tromspeler Daniël (Eddie) Brink begin skryf het.

ʼn Goeie vriend van die groep, Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties-faam, het voorgestel dat hulle vir Fred den Hartog, wat ook deel van dieselfde groep is, nader om hul album te vervaardig. Daarna het Francois de Klerk ook ʼn paar van die liedjies vervaardig.

Dié groep se eerste enkelsnit, “Dit stop nou”, is pas uitgereik. Dié snit het ontstaan nadat hulle ʼn stuk musiek ontvang het en gevra is om met iets vorendag te kom.  Hulle was dadelik mal daaroor en Wynand het met die melodie en konsep van die liedjie vorendag gekom.

Die drie lede van die groep het verskillende musikale smaak, wat wissel van melodiese pop tot heavy metal, en dit het bygedra tot die epiese, alternatiewe klank wat ʼn mens laat saamsing en die groep definieer.  “Ons het ʼn baie duidelike idee gehad van hoe ons wou klink,” vertel Wynand, “maar ná die eerste paar sessies in die ateljee kon ons agterkom dat ons nog ver is van hoe ons wou klink en het meer van ons eie unieke klank gevind, geskoei op die breë spektrum van ons individuele invloede.”

Die groep se boodskap is: “Ons wil wegbreek uit hierdie doellose bestaan wat op die oomblik so baie van ons tyd in beslag neem. Ons wil vir almal sê: Dit maak nie saak wie jy is nie en wat jou omstandighede is nie. Daar is altyd hoop in die donker. Word wakker, word groot, staan op.”

Vir nog inligting oor Nagligte besoek hul webwerf www.nagligte.com of hul Facebook-blad. Hulle is ook op Twitter by @nagligte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.