‘Nagrit’ – Valiant Swart se euforiese reistog

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Valiant Swart se Nagrit is vir seker die beste Afrikaanse album vir 2016. Die sanger-liedjieskrywer het hom al sedert die Voëlvrytoerjare as een van Suid-Afrika se topliedjieskrywers gevestig. Valiant se albums het van krag tot krag gegaan sedert sy Mystic Boer-jare wat ook nou op plaat uitgereik is.

Nagrit is vol sterk ballades van stories en staaltjies waarop Valiant sosiale kommentaar lewer van gebeure. Van kuiers en intriges op klein dorpies tot allerlei ervarings word hier gedeel. Die ballades word ook afgewissel deur die unieke Valiant Boland rocker-klank soos in “Vrydag op die Vrystaat”, waar hy tong in die kies vertel van gebeure langs die pad op toer. Valiant se orkes het fenomenale werk gedoen met die instrumentale opnames, met Schalk Joubert op baskitaar en kontrabas, Basson Laubscher op elektriese kitaar en staalsnaar, Vernon Swart op dromme en Simon Orange wat die melodieë mooi inkleur op klavier, klawerbord en die Wurlitzer-klavier.

Die album kon gewis die klankbaan van ’n moderne Quentin Tarantino-film gewees het. Die musiek en lirieke is alles deur Valiant self geskryf en die produksie sterk afgerond deur Jürgen von Wechmar van Sunset Studios. Die album vat ’n mens ook terug op ’n euforiese reistog soos met Chris Isaak se Baja Sessions. Die verwerkings is in eg Valiant-styl sinvol gedoen met ’n onderliggende tema wat regdeur die album vloei. Soos Valiant dit stel, “Die sad songs is altyd die mooi songs”; iets wat duidelik blyk uit “Die Voetsoldaat se lied”. Dit is gewis ’n album vir elke fynproewer en musiekkenner se rak. Valiant se lirieke sal ook kan kers vashou met van ons land se beste digters. Hy is gewis een van ons beste oorspronklike skrywers.

Die album is uitgereik deur Valiant se onafhanklike maatskappy Rodeo Songs. Dit is voorwaar ’n musiekontvlugting dié en sekerlik van Valiant se beste werk:

onder komete en satelliete

vleg sy deur wildernis en stadsgedruis

sy kruip deur duikweë

sy sluimer langs watervalle

Nagrit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.