Namibiese sangeres bring hulde aan Jan Spies

Die wegholsukses van haar trefferliedjie “Suidwes”, waarin die Namibiese sangeres Jezelle sing oor Sarah de Jager, ʼn legende van dié Afrikaland, het haar laat dink dat Jan Spies ook sy eie liedjie verdien.

Spies, die ontslape radio- en televisielegende en ook ʼn Namibiese boorling, sou vandag (op 30 Junie) sy 85ste verjaardag gevier het. Hy het in 1996 in ʼn motorongeluk gesterf.

Hy is op 30 Junie 1936 op die plaas Sekretarispan in die distrik Maltahöhe in die suide van Namibië gebore. Hy het ʼn honneursgraad in teologie en literatuur verwerf aan die Universiteit van Pretoria en was daarna onder meer ʼn senior dosent aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg).

Hy het egter in 1974 ʼn huishoudelike naam geword met sy radiostories op RSG se oggendprogram Monitor, gevolg deur vele televisieopnames waarvan die gewilde Spies en Plessis die hoogtepunt was.

Spies was ook die redakteur van die Namibiese koerant Republikein, waar hy tot in 1986 met sy aftrede voltyds gewerk het, en daarna deeltyds.

“Min mense weet ook dat hy in die dorre suide naby Maltahöhe geboer het. Ek het die voorreg gehad om in Maltahöhe op te tree en die mense wat vir Jan Spies geken het, ook te leer ken. Ek het by die plaashek gaan staan wat hy soveel kere self oopgemaak het. Ek sou so graag net één koppie koffie saam met hom wou drink,” vertel Jezelle.

Daarom het sy ʼn liedjie getiteld “Jan Koffiekapitaal” geskryf. Dié snit sal die voete laat jeuk en vertel in ʼn ligte luim die verhaal van Jan Spies.

“Hy het ʼn groot bydrae gelewer tot ons kultuur en die liedjie vereer daardie verhaal,” verduidelik Jezelle.

Die blondekop sangeres het in die noorde van Namibië op ʼn plaas in die Grootfontein‑distrik grootgeword. Sy is sedert haar kleuterdae doenig agter die klavier en het van kleins af geweet dat sy eendag haar plek in die musiekbedryf gaan volstaan.

As enigste kind heg sy hoë waarde aan die mense na aan haar en verklap dat sy steeds goeie vriendinne is met Behati Prinsloo, die Namibiese Victoria Secret-model, wat as kind al haar beste maatjie was. Prinsloo is getroud met Adam Levine van die musiekgroep Maroon 5.

Jezelle se eerste treffer getiteld “Suidwes” was kort ná sy uitreiking die gewildste liedjie op Namibiese radio. Die liedjie het ook in Europa, en veral in Duitsland, baie goed gevaar.

Jezelle woon tans in Pretoria en werk voltyds aan haar sangloopbaan. Gedurende die inperking verlede jaar het Jezelle haar album getiteld Vir ons mense uitgereik.

Sy is ook die mamma van ʼn tweejarige dogtertjie, Eljezé, wat reeds voor die spieël met ʼn pienk mikrofoon in die hand in haar ma se voetspore volg.

“My liefde vir my land word weerspieël in my skryfwerk, want ek verstaan die warmte van my mense en skryf reg in hulle harte in.”

Jan Koffiekapitaal

Hier is hy! Jan Koffiekapitaal…Vandag is 'n spesiale dag. Oom Jan Spies sou vandag sy 85ste verjaardag gevier het. Oom Jan, jy is te vroeg weg. Ek wou nog saam met jou 'n koffie gedrink het maar oom Jan, ek het vir jou 'n lied geskryf en vandag op jou verjaardag deel ek hom met almal. Dis nie 'n tranetreker nie. Dis 'n voete jeuk en goedvoel liedjie want dis hoe jy ons laat voel het. Ons glimlag as ons aan jou dink en ons onthou jou stories. Oom Jan, dankie vir wie jy was. Jy was ons mens. Jy het ons taal gepraat en jy het ons tipe stories vertel. Jou nalatenskap is enorm. Jy inspireer my om harder aan myne te werk maar oom, jy het die bar baie hoog gestel. Ek sal probeer… Ons sal jou altyd onthou. Jy was ons almal se oom… Jy is Jan koffiekapitaal.

Posted by Jezelle on Tuesday, June 29, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.