Nashville- Juanita du Plessis

NashvilleIn die 1970’s en vroeë 1980’s was country een van die gewildste musiekgenres in Suid-Afrika, en kunstenaars soos Bobby Angel, Barbara Ray, Billy Forrest en veral Lance James het baie gedoen om dit te bevorder.
Intussen het mense daarop begin neersien en deesdae is daar min plaaslike kunstenaars en groepe wie se musiek as ware country beskou kan word. Te midde van dit alles het Juanita du Plessis verlede jaar ‘n reis na verskeie Amerikaanse state onderneem om die oorsprong daarvan, asook ander soortgelyke musiekgenres te gaan navors en ‘n lewensideaal verwesenklik deur ‘n dubbele album in die tuiste van country-musiek, Nashville in die staat Tennessee, op te neem.
Junaita het twee CD’s opgeneem, met moderne country-liedjies op die eerste een en bekende snitte op die tweede een. Die eerste snit op die eerste album, Try me, is oorspronklik deur Trisha Yearwood gesing, maar Juanita sing dit in ‘n laer toonaard. Dalk pas dit beter by haar stem. Daar is net twee Afrikaanse snitte op die hele album, onder meer die nuidige treffer, As vandag my laaste dag is; ‘n oorsese melodie waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het. The house that built me was oorspronklik ‘n treffer vir Miranda Lambert. Een van die bekendste snitte op die eerste CD is Chicken fried, wat deur die Zac Brown Band bekend gemaak is en een van die min country-liedjies was wat die laaste tyd enige radiolugtyd in Suid-Afrika gekry het. Haar twee kinders, Ruan en Franja, sing saam met haar; dis hoog tyd dat hulle ook hul toetrede tot die musiekbedryf maak! You’ve got to talk to me is oorspronklik deur Lee Ann Womack, wie se treffer I hope you dance hier deur Ronan Keating gewild gemaak is, opgeneem. It happens is een van die lekkerste snitte op die eerste album; dit was oorspronklik ‘n treffer vir Sugarland. Die musiekvideo van die oorspronklike weergawe word hieronder ingesluit. That’s the beat of the heart het oorspronklik uit die rolprent Where the heart is en is oorspronklik deur The Warren Brothers opgeneem. Little things is nog ‘n hoogtepunt vanaf die eerste album; hierin sing Juanita van die dinge in die lewe wat regtig saakmaak. Lady Antebellum is een van die min country-groepe wat die laaste tyd gewild geword het, en die snit van hulle wat Juanita ingesluit het, is Never alone. Independence day, nog ‘n hoogtepunt op die eerste CD, was oorspronklik ‘n treffer vir Martina Mc Bride. Give in to me kom uit die rolprent Country strong, en Garrett Hedlund en Leighton Meester het dit in dié rolprent gesing. Op hierdie opname sing Juanita se gereelde sangmaat, Theuns Jordaan, dit saam met haar. Hopelik sal dit ‘n radiotreffer vanaf hierdie album word. Die volgende snit is my groot gunsteling country-liedjie, naamlik Alan Jackson se groot treffer Livin’ on love. Dankie vir hierdie een, Juanita! Die tweede en laaste Afrikaanse snit op die dubbele album is My antwoord. Hopelik sal dit die volgende album vanaf die album word. Die wysie sal dadelik bekend klink; dit is niks anders as Pam Tillis se treffer Maybe it was Memphis. Juanita maak geen geheim daarvan dat sy Shania Twain as een van haar musiek-ikone beskou nie; sy het doodseker gemaak dat y ‘n optrede van haar bywoon toe sy die televisieprogram gemaak het nie. Daarom is dit geen verrassing dat sy ‘n keurspel van Shania se treffers ingesluit het nie; die snitte wat deel daarvan is, is Man I feel like a woman, Whose bed have your boots been under, Don’t be stupid, Any man of mine en Honey I’m home. Die laaste snit op die eerste CD is Brandi Carlile se pragtige The story.
Die eerste snit op die tweede album is Today I started loving you again, wat oorspronklik ‘n treffer vir George Jones was, maar ook later deur Miranda Lambert, Dolly Parton en Emmylou Harris (om ‘n paar kunstenaars op te noem) opgeneem. Steve Hofmeyr sing hier saam met haar, en die Hawaiise kitaar laat dit na ‘n ou opname klink. Een van die lekkerste country-liedjies tot nog toe is Willie Nelson se On the road again, en dis goed dat Juanita dit ingesluit het. Dobie Gray het Loving arms oorspronklik opgeneem. Hy is nie ‘n country-kunstenaar nie, maar die country-groep The Dixie Chicks het ook ‘n treffer daarmee gehad. Blue eyes crying in the rain is al deur verskeie kunstenaars opgeneem en kan as ‘n legendariese country-liedjie beskou word. Toy train was John Edmond se grootste treffer in Suid-Afrika en dis wonderlik dat iemand bsluit het om dit weer op te neem. Die meeste mense in hul veertigerjare kan net onthou dat Always on my mind ‘n groot treffer vir The pet Shop Boys was, maar in werklikheid het Elvis Presley en Willie Nelson dit ook al opgeneem; veral Willie Nelson se weergawe het goed op die Amerikaanse country-trefferslys gevaar. Een van die heel bekendste country-liedjies is sekerlik Stand by your man, wat deur Tammy Wynette opgeneem is. Juanita se opname van hiedie legendariese treffer is baie goed. Elvis Presley het nie net rock and roll gesing nie, maar ook country. Juanita het ‘n keurspel van sy treffers opgeneem; die snitte wat deel is daarvan, is Can’t help falling in love, Love me tender, For the good times en Blue suede shoes. Nadat die rolprent Walk the line vrygestel is, het mense Johnny Cash se musiek opnuut ontdek. I walk the line was seker een van sy grootste treffers en dis goed dat Juanita dit opgeneem het. Gelukkig sukkel sy nie met die lae note nie, maar sy sing dit darem in ‘n effens hoër toonaard as Jonhhy Cash. You needed me was Anne Murray se grootste treffer in Suid-Afrika, maar jonger mense sal Boyzone se opname eerder onthou. Medals for mothers was vir verskeie kunstenaars ‘n treffers; Charlie Dicks se opname is seker die bekendste een. Dit bly nog gewild, daarom is dit goed dat Juanita dit opgeneem het. Seven Spanish angels is nuwer as wat ‘n mens dink; Ray Charles en Willie Nelson het dit dertig jaar gelede opgeneem. Juanita se broer, Pieter Naudé het dit ook al alleen opgeneem, maar hier sing Juanita en Pieter dit saam. Wasted days and wasted nights was oorspronklik ‘n treffer vir Freddy Fender, maar Gene Rockwell het hier ‘n treffer daarmee gehad. My gunstelingsnit op die tweede CD is Kenny Rogers se Coward of the county; ek is regtig bly dat Juanita hierdie snit van hiedie country-legende opgeneem het. Een van die min eg Suid-Afrikaanse country-liedjies wat ‘n groot treffer was, was Down the Mississippi, Barbara Ray se laaste groot treffer. Die laaste snit is ‘n keurspel wat bestaan uit Helen Reddy se Delta dawn en Loretta Lynn se Will the circle be unbroken.
Dis eintlik ‘n skande dat soveel Suid-Afrikaners beweer dat hulle neersien op country-musiek. Soos Johan Stemmet tereg sê, is country “three chords and the truth.” Juanita het die snitte wat sy vir hiedie album opgeneem het, baie goed gekies, maar dis tog jammer dat sy nie ‘n oorspronklike Afrikaanse country-liedjie of twee gekomponeer het nie. Miskien is dit iets wat sy vir die toekoms kan oorweeg. Intussen hoop ‘n mens dat hierdie album sal maak dat mense opnuut in country-musiek, veral dié wat die afgelope paar jaar vrygestel is, sal belangstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.