Nataniël, Karen Zoid, Stef Bos sing eerste keer saam

Stef Bos, Nataniël en Karen Zoid is die eerste keer saam op ‘n verhoog in ‘Afrikaans in styl’.

Het jy al ooit gewonder hoe dit sal klink wanneer die musikale wêrelde van Stef Bos, Nataniël en Karen Zoid in een vertoning verweef word?

Dalk nie, maar die Afrikaans in styl-produksie wat op 27 Augustus en 3 September aangebied word, is eweneens ʼn ervaring wat musiek- en teaterliefhebbers nie moet misloop nie.

Nataniël se solo-loopbaan het meer as 30 jaar gelede begin toe hy sy eerste enkelsnit bekendgestel het. Sedertdien het hy meer as 19 albums uitgereik, meer as 80 oorspronklike verhoogproduksies op die planke gehad en 21 boeke geskryf.

Hy het homself as sanger, liedjieskrywer, vervaardiger, direkteur, ontwerper en die leidende eksponent van soloverhoogoptredes in Suid-Afrika gevestig.

Zoid, wat al meer as 10 albums en verskeie DVD-opnames uitgereik het, is ʼn bekende sangeres, liedjieskrywer, komponis, musikant en die aanbieder van die kykNET-geselsprogram, Republiek van Zoid Afrika. Sy was ook een van die mentors van die sangkompetisie The Voice SA.

Johannes Kerkorrel het die Nederlandse sanger Stef Bos in die negentigs aan Suid-Afrikaanse gehore bekendgestel. ʼn Lewenslange liefdesverhouding tussen Bos en Suid-Afrika het hieruit ontwikkel, in so ʼn mate dat hy sy hart op Kaapstad verloor en hom daar gevestig het.

Bos is al met talle internasionale en plaaslike pryse bekroon en hy is die eerste buitelander wat ʼn toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en musiek ontvang.

Elkeen van hierdie kunstenaars het die geleentheid om hul eie program en styl na Afrikaans in styl te bring, wat beteken dat gehore eintlik ʼn konsert binne ʼn konsert kan verwag.

Volgens Matthys Maree, wat met die konsep vorendag gekom het, is Afrikaans in styl ʼn viering van drie van Suid-Afrika se mees ikoniese kunstenaars. Dit sal ook die eerste keer wees dat Nataniël, Zoid en Bos saam op een verhoog te sien is.

Maree vertel dat die produksie se beplanning al voor die Covid-19-pandemie begin het en dit moes uiteraard intussen eers gestaak word.

“Ná die afgelope drie jaar se lugleegte van produksies, is ons opgewonde om nou die reëlings te hervat en iets besonders met gehore te deel.”

Volgens Maree sal mense wat lief is vir teateraanbiedings veral van hierdie produksie hou.

“Ons hoop om ʼn produksie op die planke te bring wat ʼn minimalistiese en akoestiese styl het en wat met minder effekte ʼn groter indruk op gehore maak.

“Mense moet ook besef dat dit nie ʼn langdradige en uitgerekte vertoning gaan wees nie, maar dit gaan sonder twyfel die tyd en geld werd wees. Ons kan nie nou al te veel verklap nie, maar gehore kan beslis uitsien na ʼn hele paar verrassings,” sê hy.

Onder die musikale leiding van Charl du Plessis word die kollig gedeel met Juan Oosthuizen (kitaar), Henry Steel (kitaar), Brendan Ross (klawers en stem), Werner Spies (bas), Rixi Roman (bas), Peter Auret (tromme), Marlon Green (tromme), ʼn strykorkes, sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert, asook ʼn paar geheel en al onverwagse, onoortreflike stemme en gesigte.

Afrikaans in styl vind op 27 Augustus by Sun Arena in Pretoria plaas en op 3 September by Grand Arena in Kaapstad. Kaartjies kos tussen R450 en R690 per persoon en is op Seatme beskikbaar. Vir meer besonderhede besoek Afrikaans in styl se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Nathaniel se shows is volgens my die beste in die land, van die produksie tot sy storievertel gawe en sang talent. Julle sal nie spuit wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.