Nataniël neem gehore op reis in ‘Six in a boat’

Wanneer daar in die verte ses figure in ʼn boot op die water aankom, gaan party mense wonder of dit vlugtelinge is, terwyl ander mense hulle gaan verbeel dat dit vakansiegangers, vissermanne of lewensredders is.

“Elke mens kyk na ʼn toneel en sien ʼn ander storie in sy kop. Met Six in a boat wil ek kykers uitdaag om op ʼn verbeeldingsreis te gaan en dieper te dink terwyl hulle die vertoning kyk,” sê Nataniël met die oog op dié immergewilde produksie wat van 7 tot 11 Junie by die Kunstekaap in Kaapstad opgevoer word.

Nataniël vertel aan Maroela Media dat gehore elke paar minute aan ʼn heel ander boot met nuwe karakters bekendgestel word. “Elke moontlike scenario op aarde oor waarom ses mense in ʼn boot sal wees, word in die produksie uitgebeeld.”

Hy sê verder dat hy boonop vir homself ʼn uitdaging met die aanbieding van hierdie produksie gestel het.

“Ek het ʼn vrees vir water wat jy nie kan glo nie. Ek kom nie naby ʼn swembad, ʼn strand of die see nie. Ek moes myself uitdaag om iets te doen wat buite my direkte verwysingsveld is, hoewel baie van die stories op waarhede uit my kindertyd gegrond is.”

In ʼn eg Nataniël-styl is Six in a boat ʼn vermenging van stories in Engels en Afrikaans, musiek, en unieke kostuums wat deur Floris Louw ontwerp is.

Die titel sinspeel ook op die vyfmanskap wat saam met Nataniël op die verhoog verskyn: Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (bas), Peter Auret (tromme) en die sangers Dihan Slabbert en Nicolaas Swart.

Six in a boat is immergewild en het reeds verskeie speelvakke gehad. Oor die sukses van hierdie produksie, sê Nataniël dat daar elke paar jaar ʼn uitskietervertoning is en dat hy dit nie beplan nie.

“Met elke vertoning gee ek my allerbeste en wat ek dink reg is vir daardie produk. Ek dink nie altyd daaraan dat iets meer ernstig nie, en ek dink ook glad nooit aan kommersiële sukses wanneer ek ʼn vertoning saamstel nie. Ek probeer die beste vir my stem, my musiek en my stories doen.”

Vandat hy die teks geskryf het, is dit asof mense meer diepte aan die betekenis daarvan heg. Natuurlik lag en huil mense gelyktydig in Nataniël se vertonings, maar daar is ook temas wat dieper tref as ander.

“Dit hang af van wat in daardie stadium in die wêreld gebeur. Ek dink die show het ekstra betekenis gekry vandat ek dit geskryf het. Die Oekraïniese oorlog het ʼn groot effek, en load shedding en global warming het baie erger geword. Daar is soveel invloede van buite af wat inwerk op hoe mense goed beleef.

“Mense wil ervaar dat ander mense saam met hulle voel wat hulle voel, en veral dat iemand op ʼn teatrale manier sê: ‘Daar is iets fout met die wêreld en ons is bewus daarvan, maar mag ons elke dag hard werk om die beste dag te hê.’ Dit gaan dus nie net oor die vermaak wat ek in die show verskaf nie, maar ook waar mense vandaan kom,” brei Nataniël uit.

Kaartjies vir Six in a boat is op Computicket beskikbaar, en kaartjiepryse wissel tussen R250 en R350 (prys onderworpe aan verandering).

Geen selfone, drankies, kortbroeke of kinders onder 15 word toegelaat nie. Die kroeg sluit 15 minute voor die begin van die vertoning en daar is nie ʼn pouse nie. Nataniël se Kaalkopwinkel sal in die voorportaal opgestel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.