Nataniël se jongste produksie: ‘Elke lied het sy eie uitrusting’

Teaterliefhebbers kan nou uitsien na sy 18de produksie by Emperor’s Palace in Kemptonpark wat met 12 onvergeetlike konserte spog. Dit beloof om ʼn boeiende skepping te wees met skouspelagtige klerekaskeuses en die stilistiese beligting waarvoor Nataniël teen die tyd goed bekend is. Foto: Verskaf.

“Ek is eintlik nog Victoriaans, so daar is maar min elektroniese katoeters in my produksies, alles is nog karton, hout en materiaal. Ek sou nog kerse vir beligting wou gebruik as daar nie wette teen dit was nie.”

Só skerts Nataniël oor sy jongste teaterproduksie, When Giants Waltz, wat van 4 tot 27 Oktober by Emperor’s Palace se Theatre of Marcellus op die planke is.

Die kaalkop-kunstenaar het al diep in Suid-Afrikaanse gehore se harte gekruip met sy stories wat belaai is met humor, diepte en vlymskerp kommentaar en so het hy al volksbesit geword.

Teaterliefhebbers kan nou uitsien na sy 18de produksie by Emperor’s Palace in Kemptonpark wat met 12 onvergeetlike konserte spog. Dit beloof om ʼn boeiende skepping te wees met skouspelagtige klerekaskeuses en die stilistiese beligting waarvoor Nataniël teen die tyd goed bekend is.

Hy verklap ook dat hierdie produksie die persoonlikste vertoning is wat hy tot dusver op die planke gebring het.

“Dit is as gevolg van my boek, ek dink dit het my eerliker gemaak met hierdie vertoning,” sê hy.

Nataniël se eerste volwaardige memoir, Kyk na my, is verlede week bekendgestel. In hierdie boek vertel hy die verhaal van sy eie kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad en die ervaring wat hom gevorm het.

Nataniël se sy jongste teaterproduksie, “When Giants Waltz”, is van 4 tot 27 Oktober by Emperor’s Palace se Theatre of Marcellus op die planke. Foto: Verskaf.

Hy vertel waar die inspirasie vir sy jongste produksie vandaan kom en hoe hy op die naam daarvoor gekom het: “My ouma het ook altyd gesê as dinge nie heeltemal uitwerk soos wat dit moet nie, is dit omdat die reuse weer probeer wals het. Dit was haar manier om aan ons as kinders ʼn aardbewing of ʼn ontploffing of familie-gevegte te verduidelik sonder om die kinders te ontstel. Sy’t geglo as iemand iets doen wat nie vir hulle bedoel is nie, dan kry ander mense seer. So dit is hoe ek nou maar die politiek ook aan myself probeer verduidelik.”

Teatergangers kan uitsien na roerende en fassinerende insigte uit Nataniël se unieke perspektief op die wêreld. In When Giants Waltz verken hy met vrymoedigheid die toestand van die wêreld, sy persoonlike lewe, die politiek en alles daar tussenin.

“Jy weet, ek leef eintlik in ʼn seepbel, ek skep totaal my eie wêreld, dis al hoe ek kan oorleef. En in hierdie vertoning gee ek jou eintlik ʼn kursus van hoe jy die reuse van die wêreld kan oorleef, soos ek maar in my eie seepbel self probeer lewe.”

Hy doen dit met musiek, liedjies en verskeie verhale, staaltjies en praatjies wat in Afrikaans en Engels vertel word.

“Dit is veel meer as wat ek nog ooit te vore gedoen het in ʼn produksie by Emperors. En elke liedjie het ook sy eie kostuumverandering, hoor.

“Die musiek is toeganklik en nie kabareterig soos altyd nie. Dit het baie soul, jazz, blues en pop, maar ek was lus vir wilde kostuums.”

Volgens Nataniël het Floris Louw, sy bekroonde ontwerper wat al 18 jaar saam met hom werk, ʼn jaar lank aan hierdie kostuums gewerk.

Die stel is juis minimalisties sodat die gehoor ten volle hulle aandag op die indrukwekkende kostuums kan vestig.

Nataniël deel die verhoog met talentvolle en bekende kunstenaars wat hom deur die jare reeds goed ondersteun het. Foto: Verskaf.

Nataniël deel die verhoog met talentvolle en bekende kunstenaars wat hom deur die jare reeds goed ondersteun het. Charl du Plessis vergesel hom op die klawerbord, Juan Oosthuizen op die kitaar, Brendan Ross op die saxofoon, Werner Spies op baskitaar, Peter Auret op die tromme en Dihan Slabbert en Nicolaas Swart is die koor saam met Ross.

  • Kaartjies vir When Giants Waltz kan by Computicket bespreek word.
  • Luister ook na die podsending boaan hierdie berig waar Nataniël vir Esté Meyer Jansen van Maroela Media meer vertel het oor sy jongste kragtoer op die planke.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sputnik ·

Eens op ‘n tyd het ek nogal dié ou se vertonings geniet, maar na hy ‘n persoon, wie se foon in een van sy vertonings gelui het, ‘n vieslike naam toegesnou het, het ek besluit nooit ooit weer nie, nee dankie! Sy uitrusting in dié spesifieke vertoning was in elk geval belaglik – en nee, dit is nie my foon of een na aan my se foon wat gelui het nie. Ek kan verstaan dat dit steurend kan wees as ‘n foon lui, maar daardie persoon het waarskynlik in elk geval nie geweet waar om sy kop in te druk nie.

Albert ·

Ek voel weer heeltemal anders. Ek dink iemand wat nie weet hoe om sy foon af te skakel nie, verdien om uitgeskel te word. Hoekom in elk geval jou foon na n vertoning, fliek of kerk toe vat? Los die ding in jou motor vir daai rukkie. Net swaksinnige mense is aan hul fone verslaaf.

Van die os op die jas, ek sal beslis die vertoning gaan kyk. Ek geniet Nataniël se vertonings.

bambi ·

die een kunstenaar in SA wat ongelooflike shows aanbied! My hero! ek love hom! talentvol; pittig en pragtig.

Chid ·

Verreweg een van ons BESTE kunstenaars wat ‘n perfekte vertoning na vertoning lewer. Geen moeite word ontsien om dit vir ‘n puik produksie te maak nie. Kan nie wag vir die 1 nie.

Gerhard ·

Groot jammerte dat Nataniel daardie selfsugtige persoon wie se foon in die middel vd vertoning gelui het, nie uitgejaag het. Sulke selfsugtiheid steek my DWARS in die krop. Dit moet baie steurend vir die kunstenaar wees. EN BAIE IRRITEREND VIR DIE RES VAN ONS! Well done, Nataniel

Osie ·

30 jaar later en steeds is Nataniel se vertonings soos geen ander nie. Puik, puik, puik!

Louise ·

Mis nie een vertoning van Nataniel nie. Ongelooflike kunstenaar wat alles insit in amazing shows.

Koos ·

Die grootste kunstenaar wat SA ooit sal sien. Skryf elke produksie nuwe musiek, nuwe lirieke, nuwe stories, nuwe beligting en nuwe kostuums. Meeste “kunstenaars” speel 30 jaar lank dieselfde songs oor en oor en oor soos `n vasgehakte plaat. Nog nooit was hy in `n skandaal of swak lig nie, 30 jaar van klas, respek en elegansie. Die dag wat hy nie meer daar is nie is Afrikaans en SA nie net `n seder kwyt nie maar `n hele bos inheemse bome. Dankie Nataniël, jy is en sal altyd die beste wees.

Ouma Greta ·

Namens my amazing ouma:
Ek was 51j oud toe ek Nataniel die eerste keer gesien het in After Dark( Pta). Nou, op 80j, probeer ek steeds om die uitstekende kunstenaar te sien. Nie meer so dikwels as voorheen, maar steds baie trots op sy vertonings

PJN ·

Nataniel is die beste kunstenaar nog. Selfone hoort nie in vertonings nie. Praat jou praat klaar by die huis en sit jou selfoon af.

Hanlie ·

Nataniel bo. Hy is die talentvolste kunstenaar ooit!!! En sy humor ag, ek kan so lekker lag vir hom.

Willem ·

Super talentvolle kunstenaar met skerpste sin vir humor. Sien uit na die volgende 30j se vertonings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.