Naweeklyfie- Lianie May

NaweeklyfieOmtrent drie jaar nadat Lianie May haar derde solo-album, Lank lewe die liefde, vrygestel het, is sy terug met haar jongste vrystelling, Naweeklyfie.
Soos wat ‘n mens deesdae kan verwag, sing Jay die titelsnit, wat ook die eerste treffer is, saam met haar. Die woorde het weliswaar feitlik niks om die lyf nie, maar dit is ‘n lekker snit wat die dansvloere gou vol gaan kry en dit is reeds besig om teen elke treffersparade in die land uit te klim. Die volgende snit, Noodlanding, is nog ‘n komposisie van Johan Vorster en Christoph Kotze. Kiepie en Kandas behoort die volgende treffersnit vanaf die album te wees. Christoph Kotze het dit saam met Lianie se verloofde, Barry Lubbe, geskryf. Hulle speel lekker met die titels van rolprente en televisiereekse; Kiepie en Kandas was ‘n rolprent wat deur Jan Scholtz vervaardig is; hy het ook die draaiboek geskryf en dit het by die Universiteit van Prretoria afgespeel. Lullaby is ‘n pragtige snit wat Johan Vorster saam met Christoph Kotze geskryf het. Nog ‘n mooi snit is Yskoud, wat Johan en Christoph ook saam geskryf het.
Onweerstaanbaar is nog ‘n moontlike treffer vanaf die album. Lianie het ‘n hand bygesit met die hardekwas-lirieke van Kry jou ry. As daar een snit op die album is wat radiolugtyd verdien, is dit hierdie een, maak nie saak hóé kwaad dit die manne gaan maak nie! Die liefde maak seer klink nie sonder rede bekend nie; Lisa Katzke het dit oorspronklik gesing maar Lianie kan dit van voor af ‘n treffer maak. Die laaste oorspronklike Afrikaanse snit is Ek wil my hart verloor, wat Johan Vorster geskryf het. Lianie het drie bekende internasionale treffers ingesluit. Green green grass of home was oorspronklik ‘n treffer vir Tom Jones, maar Lianie het dit meer van ‘n country-klank gegee. If I could turn back time was in die laat 1980’s ‘n treffer vir Cher; Lianie se opname vergelyk goed met die oorspronklike een. Die groot verrassing is egter Cyndi Lauper se groot treffer van dertig jaar gelede, Girls just wanna have fun. Engiemand bo die ouderdom van veertig sal hierdie een veral baie geniet. Die laaste snit op die album is die titelsnit van Lianie se duetalbum saam met Jay, Bonnie en Clyde. Daar is ook ‘n paar ekstras op die CD, soos die musiekvideo van die titelsnit, lirieke en foto’s, maar om toegang daartoe te kry, moet jy die CD deur jou rekenaar speel.
Die feit dat hierdie album besig is om baie gewild te word, behoort niemand te verbaas nie. Dit is ‘n lekker album wat ‘n spul treffers gaan oplewer en wat lank op die treffersparades behoort te bly. Welkom terug, Lianie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.