Neil Somers roer hartsnare met nuwe musiek

Neil Somers (Foto: Verskaf)

Met sy splinternuwe enkelsnit, “Jy is water”, gaan Neil Somers harte roer en mense aanmoedig om hul liefde aan mekaar te bely. Dié enkelsnit is pas bekendgestel en die eerste snit van Somers se nuwe album, met dieselfde titel, word Vrydag uitgereik.

Somers breek sy musiekdroogte van vyf jaar met dié langverwagte album.

“Jy is water” is ’n liefdeslied met diep liriek wat Somers aan sy vrou, Tarien, opdra.

Somers het aan Maroela Media vertel dié enkelsnit gaan oor die geliefde persoon in jou lewe sonder wie jy nie kan lewe nie en wat vir jou letterlik so belangrik is soos wat water vir die mens is.

“Ek hoop baie ander kan dit gebruik en ook die inspirasie daaruit put om hul liefde vir iemand te verklaar,” vertel Somers.

“Jy is water” is deur Somers neergepen en het ’n country-rock-aanslag met kenmerkende popklanke daarby. Volgens Somers is dit tot dusver sy gunstelinglied wat hy self gekomponeer het.

Met die nuwe album, ook getiteld “Jy is water”, wat Neil eersdaags uitreik, kan aanhangers ’n mengelmoes van genres en musikale klanke verwag.

“Namate ’n mens ouer word, groei jy en sien dinge anders. As ek hierdie album met my vorige albums kan vergelyk, kan ek sê die klank is meer volwasse. Die album is ’n mengelmoes van genres, met country-rock wat sentraal staan.

“Die album wissel van ligte tot diep musiek. Ek sal nooit wegskram van my diep liedere nie, maar op hierdie album is ook lekker kuier- en dansmusiek.”

Somers het die album by Murray Lubbe laat opneem. Lubbe is ’n bekende musiekvervaardiger wat ook al treffers vir Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel opgeneem het.

“Dit was jare lank my droom om by Murray Lubbe op te neem – hy is een van die land se beste vervaardigers.”

Die vervaardiging van die album het in Februarie afgeskop en einde Julie klaargemaak.

’n Musiekvideo vir “Jy is wateris vandag ook net hier op Maroela Media te sien.

Somers sien ook uit na wanneer hy die land weer kan vol toer om sy nuwe album na almal te neem.

Een van Somers se hoogtepunte was sy nominasie vir ’n Suid-Afrikaanse musiek- (SAMA-)toekenning in die afdeling Beste Kontemporêre Album van die Jaar, vir sy album getiteld Hierdie hande.

Somers se debuutalbum, Anderkant Atlantis, het in 2009 die lig gesien en dié album is benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning én VAMT-album van die jaar.

“Jy is water” is nou beskikbaar as titelsnit op alle digitale stromingsdienste.

  • Neil Somers het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Anja van der Merwe gesels oor die inspirasie agter sy nuwe enkelsnit, “Jy is water”, wat pas uitgereik is. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.