Neil Somers se tweede CD eindelik hier

Neil-Somers-HIERDIE-HANDE-2015

Neil Somers se jongste album is na ses jaar beskikbaar. Foto: Verskaf.

Nadat sy eerste CD, Anderkant Atlantis, vrygestel is, moes Neil Somers se aanhangers ses jaar wag vir sy tweede album.

Nou is dié album, Hierdie hande,  uiteindelik uitgereik en die eerste enkelsnit, “Eendag op ʼn reëndag”, is reeds besig om opgang op die meeste radiostasies se trefferlyste te maak.  Dit is een van dertien oorspronklike liedjies op die album, wat hartmusiek, asook musiek vir ʼn lekker kuier, bevat.  Neil beskou hierdie album, wat kontemporêre folk-rock en ʼn bietjie pop bevat, as ʼn hoogtepunt van sy loopbaan.  Hy beskou die musiek wat hy vir hierdie album gekies het, as sy beste nóg.

Neil is in Bethal in Mpumalanga gebore en sing al vandat hy kan onthou. Hy was al lid van die Hoëveldse Kinderkoor en het op universiteit aan serenades en revues deelgeneem. Hy was besig om in siviele ingenieurswese te studeer, maar nadat  sy ma hom vir ʼn sangkompetisie in Jeffreysbaai ingeskryf het, het hy besluit dat sy toekoms in musiek lê.  Hy het, nadat hy dié kompetisie gewen het, sy studies gestaak en in restaurante begin optree. Sy paaie het gedurende hierdie tyd gekruis met Kobus Bezuidenhout, wat later die hoof-liriekskrywer op sy debuutalbum sou word.

Later het Neil na Pretoria verhuis en in 2007 is hy genooi om by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn op te tree. Adam Tas het daar een van sy liedjies gehoor wat hy self wou opneem en dit het Neil gehelp om sy eerste platekontrak los te slaan.

Neil beskou homself as ʼn reguit mens wat ʼn ding sê soos dit is en geen tyd vir aansitterigheid het nie.  Volgens hom is kunstenaars wat al lank in die bedryf is en sukses behaal, ʼn inspirasie en het veral waardering vir musiek deur kunstenaars soos Theuns Jordaan, Elvis Blue en Riana Nel. Volgens hom hou hy van enige musiek wat sy oor vang, hetsy dit goeie lirieke of sommer net die wysie is.  Hy het ʼn sagte plek vir ʼn goeie country-liedjie deur kunstenaars soos Johnny Cash, Kris Kristoffersen of Don Williams, omdat hul musiek stories vertel.

As Neil nie ʼn sanger was nie, sou hy graag ʼn sielkundige wou wees omdat hy mense graag met hartsake en probleme sou wou help, maar nou is hy eers besig om die publiek, die media en sy medekunstenaars te verower met sy musiek wat nie net strelend op die oor nie, maar ook met die hart praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.