Nianell gee raad: Hou só jou eie bekertjie vol

Nianell. (Foto: Verskaf)

Nianell het die afgelope paar jaar minder op musiek en meer op lewensafrigting gefokus. Sy het twee boeke, Knowing Who I Am en Life Simplified, uitgegee, wat handel oor die tema dat die lewe nie met mense gebeur nie, maar dat jy, saam met God, ʼn medeskepper van jou lewe is.

Sy bied ook sessies aan waar sy mense leer om hulself te aanvaar nes hulle is. Sy gebruik musiek om mense te help om met hul gevoelens in aanraking te kom.

Maroela Media het by Nianell aangeklop vir ʼn paar wenke oor hoe om die lewe te vier en elke dag ʼn inspirerende dag te hê, ten spyte van die omstandighede en uitdagings wat mense in die gesig staar.

Volgens Nianell is dit uiters belangrik om elke dag met 20 minute tot ʼn uur van meditasie en stilwees af te skop, om jou te anker en gereed te maak vir die dag wat voorlê.

“Sodra jy wakker word, moet jy jou gedagtes op die regte plek fokus. Luister na mooi musiek, see- of reënklanke en luister net – moenie praat nie. Fokus net op jou asemhaling en probeer om jou ewewig te vind en te onthou wie jy is en die groter prentjie waarvan jy deel is.”

Dit is ook baie belangrik om te fokus op alles wat reg verloop in jou lewe en die dinge wat verkeerd loop of jou sleg laat voel, uit te skakel.

Fokus op dit wat jy wil hê moet groei in jou lewe, nie op die probleme nie. Dit waarop jy fokus, raak groter, en daarom het jy die keuse of jy wil hê die positiewe aspekte van jou lewe moet groter word en of jy wil hê die negatiewe aspekte van jou lewe moet groter word. Dit sal uiteraard net in jou guns tel as jy op die goeie dinge in jou lewe konsentreer.”

Jy kan nie fokus op die negatiewe in jou lewe as jy ingestel is op dankbaarheid nie, sê Nianell. “Dankbaarheid is uit en uit die grootste deugde in die lewe en jy kan nie vrees voel wanneer jy in dankbaarheid geanker is nie.”

Die twee woorde “baie dankie” kan jou hele dag verander. “Sodra jy jou meditasie in die oggend afgehandel het, gaan staan buite met jou kop na die lug gedraai, gooi jou arms omhoog en haal diep asem. Sê dankie vir die asemhaling, vir die feit dat jou oë oopgegaan het en dat jy ʼn nuwe dag kan beleef. Sê dankie vir die positiewe in jou lewe – dit is ʼn fenomenale, kragtige aspek wat jy tot jou lewe kan voeg.”

Dit gebeur wel soms dat jy al hierdie wenke probeer handhaaf, maar dat jy steeds afgehaal voel en voel dat jy nie ʼn inspirerende, opbouende dag het nie.

Gaan doen dan iets wat vir jou baie lekker is,” sê Nianell. “Wanneer ek sukkel om te voel asof my dag reg verloop, bel ek daardie vriendin wat my altyd opbeur en van my probleme laat vergeet en nooi haar oor vir koffie. Terwyl ons koffie drink, gesels ons ʼn hond uit ʼn bos uit en vergeet van alles.”

Dit is belangrik om iets te doen wat jou aandag van jou negatiewe situasie kan aflei. “Dit kan enigiets wees wat jy geniet om te doen, soos om aan ʼn sportaktiwiteit deel te neem of na ʼn komediefliek te kyk. Ek vind dat selfs deur iemand anders met ʼn probleem te gaan help, kan jou help om van jou eie probleme te vergeet.”

Nianell benadruk dat dit uiters belangrik is om regdeur die dag mooi met jouself te werk te gaan en sag met jouself te praat.

“Pas selfliefde dwarsdeur die dag toe. Moenie onhaalbare doelwitte stel wat gaan verseker dat jy misluk nie. Wees jou eie beste vriend of vriendin, koester jouself en stel haalbare doelwitte wat gaan verseker dat jy ʼn suksesvolle dag het. Wees jou eie rasieleier sodat jy geen verwagtinge van ander mense hoef te hê nie. Sodoende is dit makliker om jou eie bekertjie vol te hou.”

  • Nianell is op Vrydag 26 November in die Centurion-teater te sien. Sy gaan onder meer haar splinternuwe enkelsnit, “In the light of the day”, sing en sal saam met haar orkes te sien wees. Kevin Lievaart is op baskitaar, Jason Phillips op dromme en Nelri Hanekom op klavier.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos tussen R200 en R230 en is beskikbaar op die teater se webwerf of by [email protected] of 012 664 7859.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.