Niks en niemand- Ampie du Preez

Hoewel Ampie du Preez eintlik verlede jaar eers sy eerste solo-album vrygestel het, is hy glad nie ‘n onbekende in die musiekbedryf nie.

Hy was betrokke by die groep ‘n Man soos Jan, wie se hoofsanger Hanno van Heerden ‘n paar jaar gelede aan kanker oorlede is, en hy het ook ‘n album saam met die krieketspeler AB de Villies opgeneem. Daarby was hy en Sean Else die twee lede van die groep 34 grade Suid.

Ampie se solo-abum, SOS, is pas heruitgereik onder die titel Niks en niemand, en die titelsnit, wat deur Johan Oberholzer, is reeds ‘n groot treffer. Die volgende snit is SOS, wat Ampie saam met Ewald Coleske geskryf het en ook al ‘n radiotreffer was.  Plain Jane is ‘n nuwe snit wat Ampie saam met die regisseur van die album, Murray Lubbe, geskryf het. Hierdie snit kan beslis ook een van die treffers vanaf die album word. Ampie en Murray het die volgende snit, Speel weer met my hart, saam met die kitaarspeler op die album, Danny Smoke, geskryf.  Klaradyn is en van die snitte vanaf SOS waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is, en dit was een van die treffers vanaf daardie album wat weer hier ingesluit is.

Die trein, geskryf deur Christoph Kotze, is seker een van die beste snitte vanaf die album. Hoewel dit wel radiolugtyd gekry het, was dit nie die treffer wat dit moes wees nie. Jy bly die een in my hart was ook op SOS, maar dit is ‘n baie mooi snit wat verdien om oor die radio gehoor te word. Ampie het Bella saam met Charl Suiwer geskryf, en weer eens is dit ‘n baie goeie snit. Ritme van jou naam en N 1 is glad nie onbekend nie; dit is onderskeidelik deur ‘n Man soos Jan en Pieter Smith opgeneem. Pieter se weergawe, wat op sy album Niemand soos jy voorgekom het, staan wel bekend as Liefling by die see, maar dit is dieselfde liedjie. Albei hiedie liedjies is deur Hanno van Heerden geskryf.  Nog ‘n komposisie van Hanno wat Ampi ingesluit het, is Yster en satyn, wat ook die titelsnit van die Idols-deelnemer Jaco Labuschagne se eerste album was.  Onbekende stad is nog ‘n snit wat eers op SOS voorgekom het, maar weer ‘n kans het om ‘n treffer kan word.  Saamstaan is ‘n pragtige snit wat Ampie saam met Johan Oberholzer geskryf het en wat beslis ‘n groot treffer kan word. Daarom is dit ‘n groot jammerte dat die lirieke klaarblyklik nie op die album se omslag voorkom nie. Die laaste Afrikaanse snit op die album is Uitgemaakte sake, wat ook voorheen op SOS voorgekom het. Sarah Theron het dit geskryf, en weer eens is dit ‘n goeie snit. Die laaste twee snitte op die album bewys dat Ampie ewe goed Engels as Afrikaans kan sing. Stand is onder meer deur Murray Lubbe geskryf, maar Your piano is ‘n baie goeie oorspronklike komposisie uit Ampie se pen.

Ampie is seker een van die mees talentvolle kunstenaars wat onlangs op die musiektoneel verskyn het. Dit is goed dat hy eers by ander projekte betrokke geraak het voordat hy sy eerste solo-album vrygestel het, maar hy moes gewag het totdat hierdie album gereed was voordat hy dit gedoen het. Die heiruitreiking van ‘n bestaande album is nie altyd ‘n goeie idee nie, want wat gaan diegene wat die vorige album gekoop het, met hul eksemplare doen as die nuwe een ook in hul versamelings is? Hoe ook al, as jy nog nie met Ampie se musiek kennis gemaak het nie, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.