Niks kan my keer nie- Candy Benson

Candy BensonDit gebeur nie sommer dat ‘n kunstenaar sukses in ‘n oorsese kompetisie behaal voordat hy of sy in Suid-Afrika bekendheid verwerf het nie.

Candy Benson het dit reggekry deur vir die oudisies van American Idol in te skryf en die eerste sewe vir die aand te haal. Omdat sy van Suid-Afrika af kom, kon sy nie verder vorder nie, maar sy is blykbaar goed ontvang. Haar eerste album, Niks kan my keer nie, is pas vrygestel.

Die eerste snit op die album is glad nie onbekend nie. Stywer vas is ingesluit op 30+30 Goue Sokkietreffers Volume 14 ingesluit. Dit is nie juis iets wat ‘n kunstenaar op sy CV sal wil insluit nie, want die standaard van musiek op daardie tipe album is gewoonlik nie baie hoog nie. Candy het egter hier vorendag gekom met ‘n baie goeie liedjie wat nie net in dansklubs gehoor behoort te word nie, maar ook die radiolugtyd wat dit tot dusver gekry het, verdien het. Daarby is dit ‘n oorspronklike Afrikaanse komposisie. Vaughan Gardiner het die snit geskryf wat vir haar ‘n deurbraak in die musiekbedryf gaan wees. Sy en Willem Botha sing Dit wat ons harte deel saam en dit gaan ‘n groot treffer word. Sonder jou is ‘n nuwe komposisie van Lucas Maree se dogter Monica, en daar is twee weergawes daarvan op die album ingesluit.  Vaughan Garinder het die Afrikaanse woorde vir Ek wag vir jou geskryf. Dit is ‘n mooi snit, en wys ‘n ander kant van haar; sy kan nie net opgewekte dansliedjies sing nie, soos sy hier bewys.  Sy het ook ‘n aantal Engelse snitte ingesluit, en With you, wat deur Daniel Baron geskryf is,  is die eerste daarvan. Maak my hart vry het ‘n hartseer geskiedenis. Candy het dit geskryf nadat ‘n vriend van har in ‘n motorfietspngeluk dood is, en dit behoort ‘n treffer te word.

Te veel vir jou is nog ‘n snit waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het. Tell me why is die volgende Engelse snit op die album, en dit kan ‘n treffer word op radiostasies wat nie gewoonlik Afrikaanse musiek speel nie. Monica Maree het die titelsnit geskryf, en volgens Candy is dit bedoel om mense te motiveer om  hul drome te volg en nooit moed op te gee nie. Nog ‘n pragtige snit is Hoekom kyk jy so vir my, wat Vaughan Gardiner geskryf het. Ek sal jou dra is nog ‘n snit waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het en maar net weer bewys dat sy waarlike talent het. Praat jou hart nog heeltyd met my is nog ‘n baie goeie komposisie van Vaughan Gardiner wat ‘n treffer kan word.  Flirtatious is heeltemal anders as die res van die album.  Candy het dit geskryf, en dié het ‘n meer elektroniese klank as die ander snitte op die album. Miskien gaan dit ook ‘n treffer word. Die laaste snit op die album is die aktoestiese weergawe van Sonder jou. Die huidige orkesleier van die Musiekfabriek (Noot vir noot se orkes), Jaconell Mouton, speel klavier op hierdie snit.

Daar is deesdae sovel nuwe kunstenaars wat tot die Afrikaanse musiekbedryf toetree, en baie mense sal Candy dalk net sien as nog ‘n blondekop wat nie juis veel het om te bied nie. Dis allesbehalwe die waarheid. Candy is nie net ‘n goeie liedjieskrywer nie; sy het ook ‘n aantal talentvolle kunstenaars gekry om saam met haar te werk. Dit bewys dat sy die potensiaal het om nog baie ver in die musiekbedryf te kom; al wat sy nodig het, is die ondersteuning van radiostasies landwyd. Hierdie album is goed genoeg om oral lugtyd te kry, en ‘n mens hoop dat al hoe meer mense in die bedryf van haar sal kennis neem.

http://www.youtube.com/watch?v=F3b35lPXbJg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.