Nóg ʼn AIG-konsert vir Kapenaars

Afrikaans is Groot (Foto: Stephen Elliott)

Die vraag na kaartjies vir vanjaar se “Afrikaans is groot”-konserte in Kaapstad was só oorweldigend dat die organiseerders besluit het om nóg ’n vertoning by te voeg.

Só sê Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger van “Afrikaans is groot”. “Kaartjies vir die vertonings het soos soetkoek verkoop. Die aanvraag aanlyn was selfs groter as met Swart Vrydag-verkope. Twee van die vertonings op 17 Maart is byna uitverkoop,” het hy gesê.

Dié ekstra vertoning word op Vrydag 16 Maart om 19:30 aangebied by die Grand West se Grand Arena.

“Ons is baie opgewonde oor dié ekstra vertoning en natuurlik ook oor die konsert wat tans in die Sun Arena by Time Square in Menlyn Maine, Pretoria, aangebied word. Gehore kan beslis uitmuntende gehalte verwag,” het Hargroves uitgebrei.

Konsertgangers kan uitsien na optredes deur Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, Jay en Steve Hofmeyr. Nóg verrassings wag op gehore.

Ongeveer 85 000 konsertgangers woon “Afrikaans is groot” in Pretoria by, wat dit die grootste musiekproduksie in Suid-Afrika maak. Afrikaans was beslis nog nooit só groot nie.

Kaartjies vir die ekstra vertoning is van Maandag 27 November om 09:00 by Computicket-kiosks, Shoprite/Checkers en House & Home landwyd beskikbaar. Kaartjies is ook aanlyn by Computicket of by 0861 915 8000 beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.