Nóg ʼn internasionale sanger in ‘Classics’ te sien

Patrizio Buanne (Foto: Maroela Media)

Die Oostenrykse minnesanger Patrizio Buanne sluit vanjaar weer aan by die Classics is Groot-produksie.

Gehore kan onder meer uitsien na Buanne en Amira Willighagen, die Nederlandse sangsensasie, se vertolking van “O sole mio”. Hulle verwerking van dié klassieke gunsteling is reeds meer as 18 miljoen keer op YouTube gekyk.

Die musikale skouspel Classics is Groot word as wêreldklas bestempel en vanjaar kan gehore uitsien na ’n reis deur treffers van die afgelope dekades. Sterre soos Jon Bon Jovi, Andrew Lloyd Webber, Cyndi Lauper en Evanescence se musiek sal gehoor word.

ABBA, Elton John en Queen se musiek, uitgevoer deur van Suid-Afrikaanse se grootste vokale talent en begelei deur die kragtige klanke van ’n volskaalse simfonieorkes, gaan gehore vermaak.

Classics 2018 gee aan extravaganza ’n nuwe betekenis. Vanjaar is daar selfs uittreksels uit die legendariese The Lion King en The Greatest Showman, die rolprent op almal se lippe,” sê Barry Pretorius, kreatiewe regisseur van Classics is Groot.

Die gewilde duo Touch of Class deel die verhoog met Corlea Botha en Jannie Moolman terwyl die Amerikaans gebore sanger Joseph Clarke, bekend vir sy briljante vertolking van Freddie Mercury (Queen at the Opera), Tarryn Lamb, lid van die groep Blackbyrd, en die pragtige Afrikaanse sangeres Monique Steyn, ook almal op die verhoog sal staan.

Die jong sanger Stèfan Bezuidenhout is ook weer te sien. Hy was verlede jaar vir die eerste keer deel van dié musikale skouspel.

Classics word vir die eerste keer in die Times Square Sun Arena in Menlyn, Pretoria, aangebied en Pretorius voorspel dat gehore in dié nuwe venue, met sy 9 000 sitplekke, net die beste spesiale effekte en choreografie kan verwag.

Diegene wat kaartjies voor 25 Mei bespreek staan ook ’n kans om ’n luukse bederf ter waarde van R35 000 te wen. Die prys – wat deur vyf paartjies gewen kan word – sluit vlugte, ’n spoggerige Lexus-vervoerdiens, vyfster-verblyf in The Maslow Times Square Hotel, aandete én ’n casino-bewys in. Boonop gaan die wengroep ook met al die kunstenaars agter die verhoog skouers kan skuur.

Classics is Groot vind op Saterdag 9 Junie om 13:00 en 19:30 plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home-winkels of skakel 0861 915 8000. Besprekings kan ook aanlyn gedoen word by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae