Nóg ’n temaliedjie vir Joshua na die Reën

Joshua-na-die-reen-02

Joshua na die Reën. Foto: Joshua na die Reën se Facebook-blad.

Ná sy onlangse sukses met “Voshaarnooi” uit die rolprentweergawe van Ballade vir ’n enkeling het Joshua na die Reën met nóg ’n temaliedjie vorendag gekom.

Vir die rolprent Hollywood in my huis wat einde Junie uitgereik word, het Joshua na die Reën “Alles gee” geskryf en opgeneem. Dit is reeds aan radiostasies gestuur en die musiekvideo is onlangs op Jukebox bekendgestel. Die musiekvideo bevat beeldmateriaal uit die rolprent.

Nog voordat dié rolprent in teaters uitgereik is, het dit reeds drie kykNET Silwerskerm-toekennings gewen, naamlik vir kennerskeuse en gehoorgunsteling asook een vir die aktrise Christia Visser in die kategorie gehoorgunsteling-aktrise.

Volgens Joshua na die Reën was die dialoog van die rolprent die inspirasie vir “Alles gee”. Hy vertel dat hy op toer was en onthou die aand toe hy op die stoep by die gastehuis in Hoekwil naby Wildernis gesit het. Daar het ’n kers gebrand en weggevoer deur die nag se atmosfeer het hy net daar “Alles gee” geskryf.

Hollywood in my huis, ’n komedie oor volwassewording, speel af in 2004. Die hoofkarakter, Jana van Tonder (Christia Visser) is ’n gewone tienermeisie wat  in ’n arm spoorwegbuurt saam met haar ouers woon. Sy sien op televisie hoe Charlize Theron die Oscar vir haar spel in die rolprent Monster wen, en dit inspireer haar om haar matriekafskeid in ’n Hollywood-oomblik te omskep. Sy en haar ouers (Louw Venter en Nicola Hanekom) woon aan die verkeerde kant van die treinspoor, haar pa is werkloos en haar ma bedryf ’n skoonheidsalon vanuit ’n woonwa in hul voortuin.

Sonder om te veel van die verhaal te verklap, gaan dit oor die keuse wat Jana moet maak tussen haar beste vriend en haar “droomkêrel”.

Die rolprent is hoofsaaklik in Vasco en by die Hoërskool Brackenfell  geskiet, terwyl sekere tonele by Fisantekraal, in Observatory en die Kaapstad-omgewing verfilm is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.