Universal Music het vandeesweek aangekondig dat dié platemaatskappy ook ʼn platekontrak met Caroline Grace, Fatman Brummer, Josh Ansley en Armand Joubert van The Voice SA-faam geteken het.
Craig Lucas van #TeamKahn is vroeër vandeesmaand as die wenner van dié gesogte M-Net-sangkompetisie aangewys.
Lucas, wat in ʼn openbare stemming as die wenner aangewys is, het onder meer ʼn platekontrak van dieselfde platemaatskappy gekry, asook R250 000 kontant en ʼn R100 000 Truworths-geskenkbewys.
Universal Music het vandeesweek gesê hoewel die ander vier deelnemers ʼn groot aanhang in die reeks gekry het, is dit hul talent wat die deurslag gegee het.
Dit is nie die eerste keer dat dié platemaatskappy vir meer as een deelnemer ʼn platekontrak aanbied nie. Die maatskappy het met die eerste reeks van die kompetisie vir die wenner, Richard Stirton, ʼn kontrak aangebied, asook vir Gavin Edwards, Zoë Modiga, Thembeka Mnguni, Vernon Barnard, Jono Johansen, Jeremy Olivier, Almur Marais, Johan Anker en Austin Lurring.
Intussen het The Voice SA die stempersentasie vir elk van die sewe finaliste op hul webwerf bekend gemaak.
Sowat 1,67 miljoen stemme is vanjaar vir die sewe deelnemers gesamentlik uitgebring.
Craig Lucas het 20,18% van die stemme ontvang, Josh Ansley 19,89%, Samantha Leonard 15,47%, Caroline Brüssow 15,09%, Fatman 14,15%, PJ Pretorius 10, 70% en Luke Lovemore 7,52%.
Dit was die eerste keer sedert die ontstaan van dié sangkompetisie dat sewe deelnemers in die laaste episode meegeding het om die kroon.
M-Net het ook in ʼn verklaring bevestig dat Lucas nié deel was van die betaalde bemarkingsopsies waaraan sommige deelnemers hulself skuldig gemaak het nie.
Net my opinie….Samantha het die grootste talent gehad. Ek wag vir haar cd.
Alhoewel almal goed was, was my stem ook vir Samantha.
Ek dink dit is baie onregverdig. Kan Maroela Media nie asseblief ondersoek instel en uitvind waarom Samantha Leonard (wat algeheel 3de plek verower het na aanleiding van die stemme) uitgelaat is nie? Sjoe, sy verdien werklik ‘n platekontrak. Sy is ‘n fantastiese kunstenaar. Indien Universal Music haar dan nie die geleentheid wil gee nie, Waarom dan nie Coleske Artists of Johan Vorster Musiek nie?…
Ja hoe kies hulle nou om Caroline ‘n kontrak te gee eerder as vir Samantha ? Sy het dan meer stemme gekry het? Ai tog…
Ek gun elkeen van hulle die geleentheid. Hulle is almal goed, maar Samatha het absoluut uitgestaan. Ek hoop dat ons terugvoer sal ontvang aangaande hierdie situasie.
Samantha was en is en het die beste stem. Julle maak ñ groot fout om haar te ignoreer. Baie swak besluit om haar nie te kies nie!!!!!
Hoe kan die lewe so unfair wees. Stig n stemblad iewers sodat ons Sam kan inkry! Sy is mooi slim en het n stem wat soveel vis SA kan beteken. Kom mense gee hierdie girl n kans.