Nogtans sal Anneli sing

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen. Foto: Argief.

Nadat die Afrikaanse sangeres Anneli van Rooyen haar sangloopbaan moes onderbreek weens ʼn operasie wat skeefgeloop het, is sy terug met haar 16de album: haar eerste in 12 jaar.

“Om te sing was vir my logies, maklik en deel van my DNS,” sê Anneli. “Ek het myself aan die slaap gesing van baksteenhoogte af. Daar was nie ’n tyd in my lewe dat ek nié gesing het nie. Tot op 23 Oktober 2007.”

Anneli se jongste album, Nogtans sal ek sing, het ’n geestelike inslag. Dit is die resultaat van deursettingsvermoë en genade. Die senuweeskade aan die regterkant van haar gesig en mond is onomkeerbaar, daar is geen optimistiese prognose vir herstel nie en sy verduur voortdurend pyn.

Verlede jaar het die gedagte ontstaan om Anneli se album Seënbede, wat stil-stil goue status behaal het, met ’n bonussnit te herverpak en opnuut uit te reik. Ondanks hoë senupynvlakke en spierkomplikasies, uitputting en baie ander gegronde vrese het Anneli besluit om te probeer. Niemand het egter geweet wat van haar stem oor was nie.

In dieselfde ateljee waar sy die meeste van haar treffers, onder meer “Neem my op vlerke”, “Ek wil jou ken” en “Ek lewe” opgeneem het, moes Anneli die skade, veral in haar mond, konfronteer en nuwe beperkings baasraak.

“Dit was ’n vuurdoop om te sing”, vertel sy. “Ek kon nie aangaan waar ek opgehou het nie. Ek moes heel voor begin en dit sonder selfvertroue. Die regisseur, Danny Antill, se geduld, tydsaamheid en geloof was die rede waarom ek kon aanhou. As ons teen tyd en koste moes werk, sou dit nie geslaag het nie.”

Wanhoop en pyn was deel van die opnames, maar hoop het op die ou einde oorwin. “Dit was ons doel en visie om hoop te skep uit wanhoop,” sê sy.

Hulle kon net agt liedjies binne ’n jaar opneem, maar “Ek lewe” het as bonussnit “in beseringstyd oorgeduik”. Die verstommende reaksie op Anneli se optrede saam met Karen Zoid op die kykNET-program Die republiek van Zoid-Afrika het gesmeek vir ’n reaksie en het weer eens die waarde en betekenis van die woorde, “Ek lewe”, belig. Anneli en Karen se vertolking van hierdie bekende treffer was bo-aan die iTunes-treffersparade.

Die titelsnit op Nogtans sal ek sing is Anneli se eerste splinternuwe liedjie sedert 2007, en hierop bring sy alle lof, dank en eer aan die Here. Anneli het “Sing tot eer van die Here” en “Heilige Here” tydens die ATKV se Crescendo-kompetisie in 2006 gehoor en dit sou in 2008 op ’n nuwe album verskyn het, maar dit het toe nooit gebeur nie. Nóg ’n snit wat sy gehoor het in die jare waartydens sy haar loopbaan onderbreek het, “U weet die beste”, is op die jongste CD ingesluit.

Nogtans sal ek sing word eerskomende Vrydag uitgereik.

https://youtu.be/Mh7HSw1Ziwo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Debs ·

Baie mooi en baie baie geluk Anneli en alle voorspoed vorentoe.

Eish! ·

Ek weet nie of Anneli hier sal lees nie, maar ek hoop van harte so.
Dalk kan Maroela haar in kennis stel. Ek gee nie om as jul my mail adres vir haar gee nie. ANNELI DAAR IS IETS WAT KAN HELP! DEUR CANNABIS OIL TE GEBRUIK. AS DIT NIE SAL GENEES NIE, SAL DIT TEN MINSTE DIE PYN BEHEER! Asb, ons verdien dit om weer jou stem te hoor.

Derek Meyer ·

Ai, Annelie, jou musiek is van die beste ooit. Neem my op vlerke. Ek luister baie daarna. Jou fantastiese stem in ‘n wonderlike lied.

Annelie, baie mense is ongelooflik lief vir jou. En alles wat met jou te doen het. Jou persoonlikheid. Jou stem. Daai liedjie. Alles.

Baie dankie!

celeste ·

Ek het Annelie gesien op Kwela n ruk terug en my hart het skoon seergekry vir haar. Sjoe sy is so groot mens om alles waardeur sy gegaan het en nog gaan nog so positief te bly. Sy het my twee keer laat dink as ek oor n pyn wil kla. Sy is regtig n groot voorbeeld van alle mense. Baie sterkte Annelie

Anneke ·

Sterkte Annelie. Ek is deur dieselfde trig neuralgie as jy en verstaan dus jou ontsettende pyn. Ek wens dit geen mens toe nie. Dis duisend keer erger as kraam. Ek is deur dieselfde dr Louis Wessels as jy geopereer en ek dank die Here elke dag dat ek genees is. Ek sou regtig selfmoord gepleeg het as ek na die operasie nie genees was nie, so erg was dit. Voor die operasie het ek Tegretol pille gebruik wat vir 9 jaar gehelp het voor dit oornag so erg geword het dat ek binne 3 dae geopereer is. Dalk sal die pille vir jou ook kan help na die tyd. Ek dink aan jou elke dag en ek bewonder jou dat jy nog kans sien om jou mond net oop te maak wat nog om te sing. Jou stem bly pragtig. As Annelie nie die stukkie lees nie kan iemand dalk vir haar die pil se naam gee.

Maryna ·

My kind moes Junie ‘n skoolprojek doen oor bekende SA sanger/es, oor alles van die persoon se lewe en die invloed op die taal en mense. Ek het vir Anneli gekies! As ek my oë toemaak hoor ek haar sing, Sannie sê Sannie sal sewe sakke sout sleep… Enig in haar sort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.