Nommer een- Jakkie Louw

jakkie-louw_nommer-eenSoms gebeur dit dat ‘n kunstenaar vroeg in sy loopbaan so ‘n groot trreffer het dat ‘n mens wonder of hy dit ooit sal kan opvolg.

Dit is seker so vyf jaar sedert Jakkie Louw se Drie pikkewyne ‘n baie groot treffer geword het. Sy debuutalbum, Alles in een glas, is heruitgereik met Drie pikkwyne as titelsnit, en Jakkie se gewildheid het net verder toegeneem. Daarna het nog twee albukms gevolg, naamlik Marietjie se hoender en Gemaak in SA.

Nou is hy terug met sy jongste album, Nommer een. Dit klink asof dit net so wel ‘n trefferversamling kon wees, maar dit is ‘n splinternuwe album. Hy het weliswaar nie die titelsnit geskryf nie, maar hy dra dit aan sy vrou op. Jakkie het Beelde van jou saam met Werner Beukes, die regisseur van die album, en Jomari Greyling, geskryf en dit kan ‘n treffer word. Jakkie het al bekendheid verwerf as ‘n kunstenaar wat lief is daarvoor om partytjie-liedjies te sing, en Brannas en Coke, wat hy self geskryf het, is een daarvan. Jy sal baie daarvan hou, of jy sal dit haat.  Dit is eintlik ‘n jammerte dat soveel Afrikaanse kunstenaars van drank sing; dit is eintlik ‘n enorme sosiale problem.  Die kitaarwerk op Water op ‘n eend se rug is baie goed, en hierop wys Jakkie dat hy lekker kan rock.  Die probleem is dat die lirieke mense se lewenshouding kan word, en niks meer ernstig opneem nie. Rum en rasberry is nog ‘n lekker vrolike snit, en daar is geen twyfel dat jy die dansvloer gou vol gaan kry as jy dit speel nie! Ek like dit is nog ‘n lekker snit wat ‘n treffer kan word. Die album bereik egter sy hoogtepunt met Sharrap en dans, wat hy en Jomari Greyling saam geskryf het. Hopelik sal dit ‘n groot treffer word!

Tweede asem is egter ‘n keerpunt op die album, want dit bewys dat Jakkie nie net oppervlakkig kan wees nie. Maandag in September is nog ‘n rustige snit, wat sowaar radiolugtyd gekry het en ‘n treffer geword het. Jakkie se dogtertjie, Linke, is gebore sedert hy sy vorige album vrygestel het en hy het Lullaby vir Linke vir haar geskryf.  Hy het Marulaboom, wat hy self geskryf het, voor ‘n gehoor opgeneem, maar die klankgehalte steek nie af by die res van die album nie.  Een miljoen woorde was sekerlik die grootste treffer vanaf sy vorige album, en hy het hierdie keer ‘n akostiese weergawe daarvan ingsluit. Op Die WP song laat hy jou vir geen oomblik wonder watter rugbyspan hy ondersteun nie.

Jakkie het weer met ‘n album vorendag gekom wat ‘n spul treffers gaan oplewer, en weer eens het hy bewys dat hy kmet dieselfde oorgawe laf en ernstig kan wees. Daarby is elke snit oorspronklik, en dit sê baie van sy  musikale integriteit. Sy gewildheid behoort net nog verder met hierdie album toe te neem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.