Nooit of nou – ShoNeill

shoneill-nooit-of-nou-2014

Foto verskaf aan Maroela Media

Met verlede jaar se Afri-Visie-kompetisie op kykNET, het die publiek vir die eerste keer van ’n aantal nuwe liedjieskrywers en kunstenaars kennis geneem.

Een van hulle is ShoNeill, wie se eerste album, Nooit of nou, pas vrygestel is. Die eerste snit is die nuwe enkelsnit, “Agter die deur”, wat beslis ’n groot treffer kan word. “Byt vas” is nog ’n oorspronklike komposisie; dit sal diegene wat moedeloos is met die lewe, nuwe moed gee.

Die volgende snit is die een wat sy vir Afri-Visie ingeskryf het, naamlik “Vasdans”. Dit het tyd geword dat hierdie snit eindelik sy trefferpotensiaal verwesenlik, veral aangesien dit die dansvloere sommer gou vol sal kry. Nogtans is dit nie ’n oppervlakkige liedjie wat net daarop gemik is om CD’s te verkoop nie.

“Crazy” is een van die lekkerste snitte op die album. Byron Kuntz het dit saam met haar geskryf en sy invloed op hierdie snit is duidelik. Daarby gee die trekklavier dit ook ’n lekker vrolike klank.

“Hart van goud” is nog ’n oorspronklike snit wat ’n treffer kan word. Die titelsnit sal veral by die jongklomp byval vind, maar ’n mens weet nie wat ander luisteraars daarvan gaan sê nie.  Die volgende snit, “10 uit 10”, is nog ’n snit wat op jonger luisteraars gemik is en jy sal dit nie sommer buite die dansplekke, waar dit gereeld gespeel behoort te word, hoor nie. Die laaste Afrikaanse snit, “In die reën” is dalk een van die beste snitte op die album.

Daar is net een Engelse snit op die album wat splinternuut is, naamlik “Switch on your love”, waarop Byron Kuntz se invloed duidelik gehoor kan word. ShoNeill het besluit om die album met drie bekende snitte af te sluit.

In 1984 het Matthew Wilder ’n groot treffer met “Break my stride” gehad, maar hoewel dit nog gereeld oor die radio gehoor word, het niemand nog daaraan gedink om dit weer te doen nie. ShoNeill se weergawe is uitstekend, en die reggae-klank van die refrein klink baie goed.

Sy het ook die waagmoed gehad om twee groot treffers van die 1990’s in te sluit. “What’s up?”, was 4 Non Blondes se enigste groot treffer en ShoNeill se weergawe klink darem nie te veel soos die oorspronklike een nie.

Die laaste snit op die album is Sinead O’ Connor se treffer “Nothing compares 2U”, ’n komposisie van Prince, wat onlangs oorlede is. Hierdie album is voor Prince se dood opgeneem en vrygestel en daarom kan niemand haar daarvan beskuldig dat sy voordeel daaruit getrek het nie. Die laaste drie snitte stel haar veelsydigheid baie goed ten toon en is dalk die bestes op die album.

Soms gebeur dit dat ’n album op ’n positiewe noot begin en daarna platval. In ShoNeill se geval het dit gelyk asof dit sou gebeur; die eerste vier snitte is baie goed, maar daarna verloor ’n mens effens belangstelling. Met die drie internasionale snitte kom ’n mens egter agter waartoe sy in staat is en dat sy byna enige genre van musiek kan baasraak. Hoewel hierdie album as ’n goeie debuut beskou kan word, sal ’n mens volgende keer dalk net wil sien dat sy meer van ’n balans tussen opgewekte en rustiger snitte handhaaf.

Musiekvideo van “Vas dans”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.