Nooit oud raak nie- Eden

Nooit oud raak nieVier jaar gelede het Eden, na ‘n aantal suksesvolle jare in die musiekbedryf, die versamelalbum Dekade, vrygestel, en aangekondig dat hulle sou ontbind.
Al drie lede van die groep, Johan Vorster, Jay du Plessis en Paulo Azvedo het hulle sedertdien met ander projekte besig gehou. Johan het een van ons land se voorste liedjieskrywers geword en Jay het ‘n suksesvolle sololoopbaan gevolg en ook ‘n aantal treffers en ‘n duetalbum saam met Lianie May opgeneem, terwyl Paulo hoofsaaklik agter die skerms gewerk het. Nou het hulle egter besluit om weer bymekaar te kom vir ‘n nuwe album en ‘n beperkte aantal optredes. Die eerste snit vanaf die nuwe album is hul nuwe treffer, Dirty dancing, wat verseker by Eden se aanhangers byval sal vind en reeds besig is om ‘n treffer op verskeie radiostasies te word. Dit is een van verskeie snitte wat Johan saam met Ewald Coleske en Christoph Kotze geskryf het. 458 Italia is nog een, en nog ‘n moontlike treffer. Hierin sing hulle van ‘n meisie wat vergelyk kan word met die intreemodel in Ferrari se reeks sportmotors. Die volgende snit, Jy soen alles reg, het ‘n lekker ritme, en dit sal veral by die jonger luisteraars byval vind. Bobby van Jaarsveld sing saam met hulle op Butterflies, en dit kom ook op Bobby se nuwe album voor. Daarom is dit byna verseker van radiolugtyd.
Johan Oberholzer het hom onlangs by Eden se platemaatskappy, Coleske Artists, aangesluit as liedjieskrywer, en sy eerste bydrae tot hierdie album is Liefde was eers liefde. Hier is nog ‘n snit wat die potensiaal het om ‘n groot treffer te word. Die titelsnit het meer om die lyf as die meeste ander snitte op die album. Dit beteken nie noodwendig dat die res van die album oppervlakkig is nie, dit is net dat dit die een snit is wat ‘n boodskap het wat oor enigiets anders as liefde gaan. Hierin sing hulle dat ‘n mens voluit moet lewe en ewig jonk moet probeer bly. Jy proe so lekker klink miskien effens eksplisiet, maar die woorde is eintlik slim. Maak nie saak nie het ‘n effense country-klank en is regtig iets besonders. Op hierdie snit het hulle ‘n paar van ons land se beste musikante gekry om saam met hulle te speel, onder meer Ricus Nel, Rixi Roman en Gideon Botes. Die res van die album bestaan uit bekende snitte, of liedjies wat hulle al vantevore vrygestel het. I want to know what love is was ‘n groot treffer vir Foreigner, en hierop sing Arnold en Ewald Coleske saam met hulle. Laat ‘n mens sommer eerlik wees; hierdie weergawe is baie beter as die oorspronklike een en laat jou van voor af luister na ‘n liedjie wat so gereeld gespeel word dat dit al holrug gery is. Soos ek al vantevore ges ê het; dit is hoog tyd dat Coleske ‘n nuwe album vrystel. ‘n Groot verrassing is ‘n dansweergawe van Midnight Oil se nr. 1-treffer van 1988, Beds are burning. Weer eens het hulle ‘n skitterende opname daarvan gemaak. Die derde en laaste internasionale treffer wat hulle op die album ingesluit het, is Kiss me, wat deur Indecent Obsession gewild gemaak het. Dit pas perfek by Eden, en weer eens is hul weergawe as die oorspronklike een. Superhero is een van twee snitte wat hulle tussen hierdie album en hul vorige een opgeneem het, en was ‘n groot treffer. Somer van ons lewe is die ander een, maar hierdie snit het dalk nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen nie. Die laaste snit is die keurspel wat hulle tydens verlede jaar se Afrikaans is groot-konsert gesing het, en wat bestaan uit 54 5de Straat, Lyf teen lyf en Is jy bang.
Eden se aanhangers moes lank wag vir hierdie nuwe album, maar dit was die moeite werd. Daar is geen twyfel dat dit ‘n groot sukses gaan word nie; dis net jammer dat hulle nie méér optredes beplan om dit aan die publiek bekend te stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.